Wednesday 25 February 2015

ratstokke en oopgebreekte skalie

I

in die karmosyn delta
dryf die appelkose tussen
die humeurige opdrifsels van wrakke
die aarde is lankmoedig
maar wee o wee sy bereik nou gou haar
kwota van hierdie vraatsugtige snuiters
wat bekend staan as die mensdom

ek is keelvol van allerhande gekierang
met mens-en-dier-en grond-siele in
die naam van rykdom
is dit dat meeste mense blind is
vir hierdie kullery?
hoeveel keer kan die mens se hart
die verraad wat hulle pleeg verduur?

die buitensporige sloping van woude
word deur die gieriges met so ‘n saaklikheid bespreek
dat hulle die werklikheid van die afmaaiing van
ons lewens-aar te gerieflik ontwyk

o, hoe ek ‘n smaadrede teenoor
die hardvogtige industrieë
sal klink uit my brandende bors

II

padkonstruksie hou net nie op nie
dis asof ons versot is op konneksie
hoe meer hulle plekke verbind met 
versnellende paaie in die naam van vooruitgang
hoe meer distansieer hulle ons

weliswaar ons is in die middel van ‘n korrupsie van
die edele grootsheid waartoe die mense-hart in staat is
dis net trokke en rekenmeesters
en ratstokke en oopgebreekte skalie
en olie, sweet en bloed wat op die teer drup

die gewelf is ontsteek met
hierdie ontgroening wat 
geen mens kan aanskou
die verwaande senioriteit van die politici
word hoogs geaffronteer as hulle teegegaan word
hulle noem jou maklik ‘n fanatikus of terroris
as jy nie saam stem met hulle 
mens ruik net stink deur hulle duur parfuum

III

ek raak gedurig aan’t tob
as ek nie sterker was en
meer afgesny van die waarheid
sou ek my oë uit my kop gesanik het

waar is die saligmakers van ons tyd?
ons die digters, die musikante
die akteurs, die kunstenaars?
wat kan ons doen?
dalk is ons gelyk aan die niksnut armchair massas,
net met meer luide en kleurvolle stemme?

soms oorweeg ek ‘n kluisenaarslewe wat 
ver weg van die sinjaal van ons tyd is
net doof wil wees in my eie stille onkunde
net visioene onaangeraak deur begeerte
te sien flikker in die dag se ontvouing
wat help dit om te mix en te mingle
en idee’s uit te ruil
wat help dit werklik?!

IV

dit is vieslik baatsugtig om so krygshaftig
te wees in strewe van magdom
almiskie, dit was van vroeg tot nou so maklik om
die kreperende volkere te ontroer en ontplooi
borste opgepof op die galjoene van die sees
               
die oorwinning is so kortstondig
in die sig van die ongenesende wonde
die wêreld fraaiing aansienlik uitmekaar soos
‘n ou ou trui
wat makeer ons dat ons net kan aangaan?
dat ek in die see kan staan en skoon gewas voel?
hoekom raak ons meegevoelens so gou ontslape

ek gryp gedurig die jammerlappie in die kombuis
en vee al wat ‘n oppervlak is daarmee skoon
hoekom net jou kombuis en nie ook die wêreld nie?
helaas, ons is so apaties dat ons ware erbarming verleer het

ek wil nie ‘n relaas van die hele koeëlbloedige prentjie maak nie
maar omdat hierdie woorde voor my oë hang
gryp ek hulle en moet ek dit hier uitstort

soos ‘n skool sardientjies swem ons verwoed deur die fluweel waters
so meesterlik in ons vin-beheer en groepsaanpassing
dit korrelleer nie met ons flambojante smagting na
onafhanklikheid en identiteit nie

V

dit is so griewend dat my digkuns
met soveel wrewel deurdrenk word
maar ek is vir eens ‘n kind van my tyd met
al hierdie gevoelens wat diep in my bors kroepeer

ek wens ek was ‘n goëlaar wat met een swierige klits
al die kwaadwillige mense se wrikbaarheid kon wegtoor
as hierdie woorde deel was van ‘n redenaarskompetisie
sou hulle seker nie ver gekom het nie
maar hier staan hulle spesiaal geselekteer in hierdie gedig
en verspil geen tyd om te sê wat daar gesê wil word nie

‘n woordsmit mag mos ook vol berisping wees
in luide lettergrepe mag die metafore op mure gegraffiti word
dit is nie vandalisering nie
dit is die verspreiding van die digterlike waarheid

laat die woorde ver in die Kaapse kastaiing oprank
en siedaar! kierts regop sal die letters
die wêreld laat wakker skrik
opstaan
en
aandig gee

No comments:

Post a Comment