Tuesday 10 February 2015

heilige harmonieë

sit ek voor my gedig met
die franke reuk van st josefslelies wat
teen die dakhoeke uitklouter
en die dwarsbalke dreig om hulle in twee te breek

die klaviermusiek van messiaen en stravinsky
laat die mense hulle middagslapie uitstel
hoera! hoe kan enige iemand wil slaap
met hierdie heilige harmonieë?

ek teug heerlik aan my drome van
dahlias en volkspele
kinderlike jolyt wat geen sambok
kon kortwiek nie

wrintiewaar! hoe die gedig sal swets
as ek haar in die wiele moet ry
sy wil vry loop tussen die slamaaier-kopdoeke
en kerries en donker glimlagte

ek tiep die glasbottel vertikaal oor my mond
laat al die water soos ‘n kaskade
diep in my dors val en my heel van
moontlike hart- en-woord-versaking

No comments:

Post a Comment