Thursday 14 May 2015

raaktoor

ek móét vandag ‘n gedig skryf
al moet ek dit by my duim uitsuig!
die skryf van die digkuns is ‘n komplekse besigheid
as jy nie oplet raak jou sinne gou die kluts kwyt!

dit is nie soos ‘n eksamen waar krip-notas ‘n uitweg kan wees
en jy die antwoorde skelm vanaf jou mou of pennedosie kan lees
ek is ook geen boheem wat glo poësie sal vloei met ‘n dosis opium of wyn
maar tog kan dit nie net so vanuit die blote lug of my grysstof verskyn?!

die gelowiges sê goddelike ingryping is die antwoord
maar hiermee staan ek nie heeltemal in akkoord
hoe kan ek my vertroue plaas op 'n vonk om oor my hoof te flits
en die inspirasie soos vuur aan te hits?

ek weet dit was eens op ‘n tyd mode
om te wag vir die aanraking van die muses en die gode
maar ek kan nie alewig wag vir die vonk van ‘n eksterne bron
dit moet seker kom vanuit my eie skynende son?

moenie te veel dink, huiwer of wag
watter vers dit ookal is, bly skryf elke dag
die digkuns wil ge-uiter wees
al word jou hand en stem lam en hees

glo dat die regte woorde sal kom 
en vrylik op jou papier en tong gaan oopblom 
die digkuns sal jou smekinge aanhoor
en op sy eie tyd jou sinne raaktoor

No comments:

Post a Comment