Sunday 17 May 2015

selfie

die herontginning van die Self
die oppervlakkige EK-splorasie 
vanwaar hierdie wil om van die Self
‘n fotografiese portret te maak?
die vasvang van die held van jou eie storie
die begeerte om jou eie celebrity te wees
die dokumentering, websiting, 
blogging, tweeting,
facebooking en instagramming
van die Self en vir die Self
die vreemde 21ste eeuse tendens om die Self
op die baksteenlose mure van kuberruimte te ontbloot

vir wat wil ons in 'n koue photo-booth gaan sit 
om deur 'n masjien afgeneem te word?
dit is so passé om deur burokratiese oë
vasgevang te word en op Groot-Broer se lens
opgeoffer te word met vaal en glimlaglose gesigte
ons sal nou die kamera-knoppie self druk om 
ons eie geoefende glimlagte af te neem, dankie!
hoeveel ekstra sentimeters ons nekke en arms ookal moet groei
weier ons om iemand te vra om dit vir ons te doen
ons sal dit SELF doen, ons dring aan 

welkom aan die Selfie: waar die Self in beheer is van die Self
- ons glo en hoop so -
ons wil heersers van ons eie lot wees
ontwerpers van ons eie paaie
publiseerders van ons eie gesigte
ons weier om automatons te wees in
die siellose meganiek van bestaan
ons sal skyn
ons sal beautiful wees
ons het nie catwalk-monde nodig om
vir ons te pose en pout nie
ons sal ons eie smiles smile
en ons eie rigting inslaan
die tyd dat ons wag vir iemand of iets om
ons lot te choreografeer is verby
dit is nou die tyd dat ons ons eie lewe bemagtig
en dit begin met die Selfie

No comments:

Post a Comment