Thursday 1 October 2015

donder en weerlig

donder en weerlig speel opera-opera
op die verhoog van die Midlands
dit is so aangrypend
al ons klein menslike dramas verval tot 
niks 
in aanskou van hierdie klank en lig-skouspel

daar is etlike plekke op aarde waar
ek so getoor voel
daar waar die elemente en natuur so gelaai is
ek voel die donker misterie en
die wakkerheid in die atmosfeer

ek voel my kwesbaarheid teen
die agtergrond van hierdie magiese natuur-vertonings 
tog mettertyd voel ek die salige bemagtiging
in hoe die kleinheid van my lyf 
uitstyg en strewe om
die grootsheid van my siel vol te staan

donder en weerlig maak my nie bang
dit maak my hart bol staan
van 'n oer opwinding

so ‘n senutergende skouspel stroop my kop
van afleidings en projeksies
as ek nie teenwoordig  is in
hierdie drama getiteld “lewe” nie
sal die elementele rekwisiete
die huidiglikheid diep in my huid in ruk en
my so teenwoordig, wakker en
op aandag binne
hierdie heilspellende hede sal laat staan
dat ek oombliklik sal sien hoe
alles om en in my
elektries
lewend
dig
word

No comments:

Post a Comment