Thursday 15 October 2015

eenvoud *

ek lê onder die oorhang van die grot
drup-drup water uit die klip en bons op
die blare van ‘n jong stinkhoutboom
en spat ‘n sproei-reën op my oop gesig
sneeu lê op die pieke en hange van die Malutis
sien ek teen die kille bloue winterlug
‘n helende son
niks kom naby die eenvoud hiervan

geen intellek
geen fancy woorde
geen stadsgeriewe
geen vaartbelynde voertuie
geen argitektoniese vernuf
sal ooit blinker skyn as hierdie
water klip boom lug en son

*Hierdie gedig is gekies om deel te vorm van die Sol Plaatje European Union Poetry Anthology van 2015.

No comments:

Post a Comment