Wednesday 21 October 2015

hallelujah

ek luister na hallelujah
soos gesing deur jeff buckley
en my regter voetsool gloei asof daar ‘n vuur naby flikker
my hartspier huil trane dikker as bloed
ek kou die potlood met ‘n melankolie in
hierdie vrydagmiddag oktober hitte
die wit gordyne beweeg so lig
soos eens die plooie van my ouma
ek vang hier ‘n oomblik van rus in die tornado van die dag
met ritte op taxis busse en treine
tussen my ouerhuis in turffontein en my alma mater in pretoria
borduur ek herinneringe op ‘n enkele warm spoor
ek kan nie help dat die nat van my trane selfs in my ore gaan sit
ek wikkel my pinkie in my oorholte
herrangskik die was tussen die trane
om plek te maak vir die oorfone
want hierdie hallelujah wil ek nie vertroebel 
ek dink terug aan die laaste 24 uur se emosies
en ek word skielik opgewonde toe ek onthou ek het
anne sexton se volledige gedigte gistraand gekoop by
protea boekwinkel in burnett straat
ek het paar gedigte kon lees op die trein terug jozi toe
en die vrede van die warboel emosies
het kom stil sit in my oë wat anne se sinne verorber
aai om gedigte te lees is soos bid of mediteer
al is die kop aan’t raas en die hart seer
het gedigte ‘n manier om my aarde toe te bring
en lig om my tempels te laat kring

No comments:

Post a Comment