Saturday 10 October 2015

volle vlesigheid en aanwesigheid

jy lê plat op jou maag
met jou kop wat eenkant toe kyk na waar
jou arm net duskant jou kop lê
en skielik sien jy jou
arm
heeltemal apart van jou lyf
asof jy vir die eerste keer 
waarlik
‘n arm sien
die vel
die haartjies
die bultende are
die spiere
die sproete
die porieë
en
die plooie
die volle eksistensiële gewig van jou arm
tref jou tussen die oë
jy voel ‘n oomblik van dankbaarheid
vir hierdie waarneming waarvoor jy jouself oopgemaak het
so ‘n diepe seëning hierdie teenwoordigheid van
jouself binne in jou vel
die volgende oomblik staan jy op
jou arms voel los en koel
jy kan nie wag om iemand te gaan omhels met
die volle vlesigheid en aanwesigheid
van jou arms nie

No comments:

Post a Comment