Tuesday 19 September 2017

Koor-repetisie in Kwandengezi

ek en Sandile Mabaso - tenoor en koordirigent -
sit in ‘n taxi oppad na Kwandengezi
duskant Pinetown in KwaZulu-Natal
net voor ons vertrek klim twee dronk mans in
met die uurlange reis is ons getuies van
hulle onophoudelike  argument oor
wie die R10 taxi-fooi gaan betaal
die humor van die situasie smelt in
ons stil mondhoeke

hier sit ons - twee klassieke musici in
die geroesemoes van ‘n taxi
onderweg na ons repetisie
ons hardloop ‘n bietjie laat
Sandile stuur whatsapp boodskappe om
te laat weet ons is oppad
die Vusisizwe Choral Society in Kwandengezi
wag geduldig vir ons aankoms

ek is ietwat senuweeagtig
die Donizetti en Mozart wat ek ingeoefen het
is vinnig en daar is baie note

toe ons arriveer groet die koorlede ons met
soveel dekorum en dankbaarheid
ek het my kort pers rokkie aan
ek vermoed die koor het nie verwag dat
‘n vrou met sulke dun beentjies so kan klavier speel nie
moet ek byvoeg daar was nie ‘n klavier nie
wel ‘n keyboard sonder ‘n pedaal en staander
al is my konsentrasie intens
kry ek so lekker om te hoor hoe
die sterk stemme teen die mure bons

more het ons ‘n optrede in Pinetown se Metodiste kerk
en Sondag in die Tatham Kunsgallery in Pietermaritzburg
die opwinding sit hoog in almal se kele

die koor het geld ingesamel sodat ek
die volgende twee aande in
die Pinetown Bay Lodge kan oorslaap
‘n saligheid lê oor my toe ek
die aand in die bed klim
as ons maar net weet hoe gelukkig ons is
om in Afrika musiek te kan maak!

No comments:

Post a Comment