Tuesday 28 April 2015

die soeke

heen en weer spring my oë in die soeke
na waarde en ‘n opregte klank van lewe
ek kyk in die boomtoppe
teen die rand van die berg
op die donker vlek van my skaduwee

ek spits my aandag op
die krake in die muur en holtes in die grond
iewers skuil en broei dit fungus-stil
ek soek in die heuningpot se taai deksel
in altwee my broekspype
in al die deure se sleutelgate
dalk sit dit in die stof wat geruisloos in hoeke vergader

waar kan dit wees?
ek klim op die dak en kyk vandaar die vertes in
en roep met luide sillabes na die vreemde werkinge van vrede
en die geheimenisse van kreatiewe drange
om hulself uit hulle esoterika te ruk
en hulle helder verskyning te maak

moenie te ver kyk
dit sit moontlik hier reg op my voorkop
op die gehardheid van my sternum
tussen die riffels van my verhemelte
dalk net duskant my tempels
of in die heilspellende holte van my hand

ek soek dit in die lig in mense se oë
probeer dit vind in die toesprake van helde
in die voetsole van die ontdekkingsreisigers
in die asem van die Buddha
by die oprig van brûe
dalk is dit daar by die geboorte van babas
of tussen die vere van die digter se kopkussing

ek hardloop met ‘n oop mond die wind in

die soeke sal nooit stop

ek vou my hande so styf in mekaar
dat die kneukels wit staan soos sampioene

toegewyd sal ek bly in hierdie soeke

No comments:

Post a Comment