Wednesday, 15 April 2015

laat ons terugkeer hiernatoe

met die arrivering van die winter-seisoen
staan ek gereed met vlamme wat warm oor my skeen flits
ek sien ver voor uit in 
die onvreedsaamheid van die wêreld
as ek sou bid dan is dit nou
want iets skort in die lewe
die harmonie van saamleef en skep
en mekaar die vryheid van grond en atmosfeer gun

in die uithoeke van ons bestaan sal daar
nog humor moet vasklou om ons siele te red
want as ons eers ons waardigheid verloor het met
die uitwissing van liefde en vrede
gaan ons nie veel hê om aan vas te hou

laat die basuinende klanke van visionêre stemme diep in
die holtes van ons ore vibreer – helder stemme wat 
ons uit ons hibernasie sal pluk
en ons bloed die rigting sal wys
en asseblief, herinner ons om te skep in plek van ruineer
en dat dit ook okay is 
om te observeer eerder as om te reageer

leef met oop gemoedere en juig uitbundig oor
al die passievolle mooi wat 
pols en groei uit hande en monde
laat ons nooit ophou leer
laat ons bly kyk na die groei van
die sade in en om ons
laat ons sonder voorbehoud wortel en blaar spruit
wat van lig en son
skadu en vorm sal maak

laat ons terugkeer hiernatoe:
die eenvoud van skep
laat vaar die kompleksiteite en hoogdrawendhede
stroop die skeppingsdaad tot iets
so vaartbelyn en ongerep
dat ‘n enkele resonans die pupil van die hart
sal laat oopblom en tot verligting ruk

1 comment:

  1. 'n Besonderse gedig.
    Sien uit om nog van jou werk te lees. (Het net vandag op jou naam en blog afgekom)

    ReplyDelete