Friday 24 April 2015

Groot Gees

sit al die ligte af
brand mpepho en salie
roep die geeste van die Woord op
onttrek myself van enige drink of eet
ek uiter geen woord
is stil en oop vir
die manifestasie van
‘n rustige ongretigheid

vanself begin my lyf draai in ‘n kolk om en om
word ek dronk op die suiwerende oomblik van
die letterlike loutering
trek die walms van die brandende kruie
diep in my longe
sien hoe die woordgeeste
vorm begin aanneem in
hierdie rare aardse verskyning

die rillings breek uit oor my hele lyf 

o die oomblik kom nader
die arrivering van die Groot Gees van die Digkuns
het aangebreek
sy asem hang soos dik stoom in die vertrek
ek ruik sy woorde in die diep donkerte van die stilte
die letters drup soos warm kerswas op my hoof
moenie probeer om dit af te vee
laat dit drup drup drup in my skoot en
kwiksilwerig uitdartel op die ouija bord

ah ah aaaaah
dis onmoontlik om weg te kyk
die hipnotika is sterk in hierdie oomblik
in die mees heilsame asemrowing
hoor ek hoe die lettergrepe in die mond van
die Groot Gees die
mees magiese gedig uitspel ...

No comments:

Post a Comment