Friday 18 November 2016

seëvier

ek sit in 'n vliegtuig
en net hier agter my sit 'n jong vrou
en gesels oor die trefkrag van die rymende koeplet
hierlangs my begin 'n swart man te klets oor 
die metafoor waaraan hy timmer en skaaf 
en waarmee hy eendag die wêreld gaan oorneem
voor my sit 'n gryskopman en bespiegel oor
die medisinale gebruike van sonette
en wat die beste manier is om dit in te kry - 
snuif, inspuit, sluk of rook?
oorkant die paadjie sit 'n Indiër man 
en wonder hardop (met sy oë toe) hoe sy ragas 
gaan klink in kombinasie met die resiteer van 'n handvol haiku
die lugwaardin loop verby met haar trollie
en bied aan 'n keuse tussen komplimentêre limerieke en odes
deur die luidsprekers breek die vlieënier se stem 
en in vrye vers besing hy die wondere van vlieg

slaap ek dalk? ek knyp myself aan die dy
want ek kan dit nie glo -
wat 'n digterlike vlug!

die volgende oomblik staan ek vrymoedig op
vokaliseer hardop my mees onlangse gedig
waai koebaai 
en spring uit die naaste nood-uitgang
 - sonder valskerm -

as die poësie so seëvier
dan sal ek verseker vanself ook kan vlieg

No comments:

Post a Comment