Monday 18 July 2011

Die Oer-Pols


Hier is my digterlike interpretasie van die seksuele smagting...
Die oer-pols

Dit is dit wat stoot
wat gryp
wil uitbars in raserny van instink
dit pols dit sluk
selle wat die oer-oorsprong van één wees wil nastreef
ons kan veronderstel aan die begin
was een bang
een broei-poel
een godsvinger
wat lewe meervoudig getoor het
so gaan dit met die skeppingsdrang
dit is 'n oorlewingsdrang
en om te oorleef moet
die peristalse van sluk
en hyg en stoot
die lewe meegaan
Dit is die bymekaarkom
die aantrekking van water-gebaseerde organismes
in kwiksilwer-sparteling
Dit is 'n oomblik van saamhoort wat meestal eintlik wil afstoot
efemere rekonsiliering van teenpolige vlees
Dit is spoeg en suig
verwonding en heling
Dit is paradoks vasgevang in die verstrengeling van ledemate
Dit is daardie soektog na die oer-pols wat
gewalg het aan die eerste suurstofsel
daardie eerste asemteug van lewe
verbasing en skok dat lewe so moet pols om
aan die  lewe te bly
daardie vibrasie en verrukking van lyf teen lyf
is die uitlewing van die ingebore ritme
wat met ons gekettingde sosiologie verward geraak het
Dit is die metrum van vertering
die oerdier-opslurping van versadiging
die wegskram van uit-tering
die afweer van die onhygendheid van die dood

No comments:

Post a Comment