Friday 8 July 2011

suiwerste troos

Suiwerste troos geskryf en voorgelees deur Lara Kirsten by Lara Kirsten 1


Hierdie gedig is geskryf op aanvraag van Hugh Hodge - die redigeerder van New Contrast, die Kaapstad gebaseerde letterkundige joernaal. In 2010 het hierdie publikasie sy 50ste bestaansjaar gevier met 'n spesiale uitgawe van 'n wye verskeidenheid essays, gedigte, "reviews" ens. Hugh wou he ek moes in my moedertaal 'n poe''tiese brug bou tussen toe en nou. Dit was 'n uitdaging veral omdat ek net twee dae gegee is om betyds die "deadline" te maak en omdat hy my laat weet het dat die digter wat net voor my in hierdie uitgawe gedruk gaan word is ... Ingrid Jonker!

suiwerste troos

van hier tot daar loop ek oor die sillabes van die hart
voel ek aan die polsende metrum ons knaende smart
trap ek in doolhowe waardeur die tonge steier
sodat ek die dringende instinkte van die keel nie kan weier

dit is tot hier waar ons bekgevegte gekom het om my sinne
tot stilstand te ruk en my digterlike motief te heroorweeg:
dit is 'n hygende begeerte om self-woord te pleeg
sodat die volk die diepere uitdagings van ons bestaan kan beleef

die soektog bly tril in die wande van my mond
ek kan nie wag totdat die verbale revolusie gaan woed
en ons ons eie sweepslae wat die kragtige verbeelding verwond
met die purgatoriese vlamme-tong tot 'n einde gaan roep

nou kan ek helder die lied van my voorgangers sing
sodat die hoop van die taal ver en wyd uitkring
op die vlaktes van hierdie tong staan ek trots en vreesloos
die suising van my taal die suiwerste troos

19 nov 2010

No comments:

Post a Comment