Sunday, 10 August 2014

ek smag

ek smag vir uitbreiding transformasie verandering 
en 
transendering

gooi my boks weg
tyd vir kreatiewe vernuwing
hoe ver moet ek die ek strek
tot ek tot op nuwe ongekarteerde terrein opdaag?

goddêmmit ek wil iets skryf en sê
wat nie soos ek klink nie
wat nie beswadder is met die eng kanvas
van hierdie een enkele kleinsielige en 
kleinoppervlakkige ek nie!

die gewone eerste persoon vertelling
raak nou afgesaag
gee die eerste persoon oor na iemand anders
die oorspronklike ek se choreografie
heers nog te sterk
gooi haar uit
haar soort is nie nou welkom hier!

oorbewolk oorskadu oorvloed oorbevolk oorbefok met die ek

smagting na splinternuwe vorme van uitdrukking
honger vir nuutgeskepte simbole
en
dors vir nooit-vantevore-gehoorde inkantasies

kan ek vir ‘n oomblik aan amnesia ly
en asseblief nog ‘n sin vir die digkuns behou?

kan ek vir een helse kreatiewe oomblik
vry van die bewussyn van self wees?
kan ek ‘n ontdekkingsreisiger wees
sonder die ek-sindroom?
net vir enkele seisoene soek ek geen self-en wêreldkennis 
geen konteks en geen geskiedenis
geen verbintenis en geen behoort
geen assossiasies en geen onthou
en asseblief geen taal
laat ek los van dit alles kan staan
om toet-tale vryheid aan my digkuns te gee

                ontginning van onontdekte klip

ek gaan oefen om dit reg te kry
om vry van my eie beperkte en
beperkende denke te wees

dit sal seker help om van tyd tot tyd
die ego op te gee
maar ek baklei daarteen - ek is geen boeddhis
my lyf is so deurtrek met die ek-aroma
my gees so gehul in die ek-stralekrans
wat is die kans dat ek buite
die ek kan bestaan?!
  
her-bedink her-ontwerp
de-programmeer
en her-programmeer

skielik sien ek my                            ek               daar in die koue verte opgekrul lê
sy voel so aangetas met hierdie honger en 
soeke vir ‘n ander self
sy is moeg

tog weet sy
al wat die ek sal red
is die waterput van haar verbeelding

Thursday, 7 August 2014

just try

scream status 
count results
all right 
think out passwords
turn around
sirens 
waves collapse
crush float exasperate

shouting oceanic expanse


peephole to the essence of life



shiver in the corner of your box


tumble over snowfields

try to wipe the taste of the syllables off of my tongue

just try
and i 
will 
slap
you

Tuesday, 5 August 2014

beperking

ek is verbaas daar is
nie meer van ons wat mal raak
weens die beperking van ons twee oë
wat net vanuit die sentrum
van die gesig
 - op hoek van Neus en Tempel -
kan sien

Saturday, 2 August 2014

verant-woorde-likheid

ek weet die woorde agtervolg my
ek kan hulle net nie sien nie!
ek kyk al om my heen
sonder vorm sluip hulle
hoorbaar is hulle hygende asemhaling in
die gate van die lug

donder weet, ek is verslaaf daaraan om hulle in ‘n vorm te giet
ek kry net nie genoeg daarvan!
god weet, hierdie skryfkuns is goed vir die hart
dit oefen die palpiterende spier teen ‘n ferm en ritmiese pols
senuwees staan pen-orent
geen afskaling van my waaksaamheid
my oë staan op stokkies
ek wil enige iets in die nabye en in die vertes 
kan raak eien en dit omskryf vanuit
die kwylende vervoering
ek soebat dat die verruklike harmonie en
die uitbundige ekstase van die skrywershand
nie
verdwyn
nie
ek skryf dit diep in
die gryn van my wese
laat dit soos ‘n hipnotiserende mantra in my resoneer
en my nooit laat los

dit voel asof die verant-woorde-likheid
net te groot is om die woord te laat kwyn
die gevoelentes metafore en objekte
sal my nooit vergewe as ek hulle so kop-en beenloos
in die stof laat lê
ek sal dit uitdruk tot die laaste druppel toe
al is dit die enigste ding wat ek doen
dis vervulling genoeg
om beelde en beindruksels
uit
die
swart
griffels
te
giet

Wednesday, 30 July 2014

in the dappled pine forest a lost parachute grips the needly leaves

in the dappled pine forest
a lost parachute grips the needly leaves
the scorched shadows screech with the cicadas

the startled sarong
buys time and
unyokes her hips

the cracked lampshade
crouches
under its moth-eaten masking tape

the bookshelves and files try hard
to disseminate knowledge and order
from their sadly silent and immobile position

she sits on the see-saw
carelessly rocking
her volatile restlessness

the world’s disputes are so accustomed to
the wretched knots
of their vicious repetitions

despite tsunamis, deluges
and flash floods
water always retains its balanced and affectionate nature

lose your bristly sense of non-involvement
pluck all the rubber from the factory yards
hang them in one gigantic flying and gliding installation

the cells are stealthy and mischievous
the mouldy ceiling and its dead mice
greet the ol’ factory of the noses

the tickling froth blowing on the waves
heals those suffering
from starchy unhappiness

the washing powder is oh so docile
as it swirls and rolls
pushes and prays that the blood will wash out

in die sonbevlekte dennewoud klou ‘n verlore valskerm aan die naalderige blare

in die sonbevlekte dennewoud
klou ‘n verlore valskerm aan die naalderige blare
die verskroeide skadu’s gil met die sonbesies

die verskrikte sarong
koop tyd en
ontboei haar heupe

die gekraakte staanlamp
buk
onder die mot-gevreetde maskeerband

die boekrakke en leêrs probeer hard
om kennis en orde te versprei vanuit
hulle droewige stilte en onbeweeglike posisie

sy sit op die wipplank
sorgeloos wieg
sy haar ongedurige rusteloosheid

die wêreld se dispute is so gewoond aan
die vervlakste knope
van hulle venynige herhalings

ongeag van tsunamis, vloede
en frats golwe
behou water altyd sy gebalanseerde en liefderyke geaardheid

raak ontslae van jou stekelrige sin van nie-deel-wees-van
pluk al die rubber van die fabriek-erwe
hang hulle in een reusagtige vlieënde en swewende installasie

die selle is slinks en ondeund
die skimmel plafon en sy dooie muise
groet die reuktuie van die neuse

die kielie-ende skuim wat waai op die golwe
genees diegene wat
aan stram ongelukkigheid ly

die waspoeier is o so gemoedelik
soos dit draai en kolk
stoot en bid dat die bloed sal uitwas

Monday, 28 July 2014

geloof van die poësie

terwyl die oggende hul koffie drink
raak my hart aan't palpiteer met die afwagting van
die koms van die Groot Gedig

terwyl babas huil en mense doeke omdraai
tob ek oor die volgende lyn van
digkuns wat ek gaan skryf

terwyl mense die wêreldstreke wil oorneem
kook ek die woorde in my pot tot
in die essensie van die sin daarvan

terwyl kinders in skoolbanke kriewel
leer ek myself om
van hierdie beperkte woordeskat stukkies kuns te maak

terwyl die riool hard pomp aan die wêreld se kak
sif ek deur my eie kak opsoek na die goue lyn wat
my met die sentrum van die kreatiewe gode sal verbind

terwyl die wêreld se lug en grondweë verstrik raak deur wiel, vlerk en rook
ontknoop ek my eie strikke om helderdenkend tot by
die vibrerende bron te kom van die mooiste metafoor

terwyl mense die aand toeryg met diep slapende asems
vou ek my skedel en hartsvlees styf om 
die geloof van die poësie

Saturday, 26 July 2014

vang die kleinste wind

van klei tot klip
water tot vuur
olywe tot appels
kaal tot kostuum
fluister tot skreeu
spring tot lê
van hier tot daar
vat die digkuns my
waarheen sal dit my nog na lei?

watter noodsaak het die interne woord?
wat moet gesê word?
wat moet gevoel word?
wat moet uitgedruk word?
wat is nodig,
waarlik nodig,
om keel
  asem
en lyf
te kry?

die drama van die digkuns wil gehoor word
dit is die doel daarvan
dit is onvoorwaardelik nood-dig
‘n onvervangbare deel van menswees
die uitdruklike vertolking van die hart

hierdie vlag is nie klein en
waai nie flou en half-mas nie
hierdie vlag vang die kleinste wind
en wapper met een helse gebaar op die horison

die bloed sit so na aan die keelwand
so vlak onder die vel
so warm in die oogbal
so vol in die hart
hoe kan 'n mens nou onoortuig leef en uitdruk
as die bloed die heeltyd pols
en elke dag nie vra om jou aan die lewe te hou nie
maar dit eenvoudig net doen

ek moet nie vergeet nie:
skryf na aan die bloed
na aan die klop
na aan die hart
na aan die vlees
want dit alles
suis en dreun met soveel hartstogtelike lewe
dat, waaragtig, ‘n onoortuigde lewe
'n onwillige hart
'n lafhartige gees
en 'n lui lyf
net nie die antwoord is op
die wonderlike rite van asemhaling nie

Friday, 25 July 2014

ontembaarheid

inderhaas kom die wolk op my neergedaal
die dag mag nie eindig voordat ek
iets van relatiewe betekenis neerpen nie

my hart klop tot in die glas water

komaan, moet nie so gou opgee
vang die essensie van vandag vas 
daar moet iets wees wat die dag gemaak het dat
hy tot hier toe in die son gedraai het

vat jou net en
vang
daai skoenlapperige iets





ek is oortuig dit wil nie gevang wees nie

dis die wilde geaardheid van die digkuns –
dit wil vry wees van enige inhokking

die essensie van vandag:

die ontembaarheid van die woord.

tamelessness

the cloud descends on me in great haste
the day may not end before I have
penned down something of some relative significance

my heart beats right into the glass of water

come on, do not give up so soon
capture the essence of today
there must be something that has made the day
to have turned to this point in the sun

take your net and
catch
that butterflyish something





i am convinced it does not want to be caught

that is the wild nature of poetry –
it wants to be free of any confinement

the essence of today:

the tamelessness of the word.

Monday, 21 July 2014

in a sweat of nutmeg i plant my thighs

in a sweat of nutmeg i plant my thighs
it is with a clean look in my eye
that I populate the canvas with vertiginous ash

in an apocalyptic temper
I guard the orphaned words
with a smudge of fennel and rosemary

rumbling is heard in the distance
over blazing gravel I chase the thorns
the oranges bend down to smell the grass

the rocking tractor 
dives into 
the ordinary parade of stringy pity

i shiver

the charcoaled japanese maple
divides the sky into
a sizzling griddle

the over-exposed ladder
draws its legs closer
and sneezes from its peeling paint

the canvas participates in the fornication
sway, swim, screw, grate and usurp the moment
of lawless energy

my phlegmatic suitcase
frenetically practices
to pinch the desiccated sesame seeds

I lie flat on my back
let the open blue sky fabricate
its own panegyric

- - - 


in ‘n sweet van neutmuskaat plant ek my dye

in ‘n sweet van neutmuskaat plant ek my dye
dit is met ‘n skoon kyk in my oë
wat ek die skilderdoek met duiselige as bevolk

in ‘n apokaliptiese gemoedstoestand
bewaak ek die ouerlose woorde
met ‘n smeersel vinkel en roosmaryn

‘n gedreun word gehoor in die afstand
oor brandende gruis jaag ek die dorings
die lemoene buig neer om die gras te ruik

die wiegende trekker
duik in
die ordinêre parade van seningrige bejammering
                                                          
ek ril

die verhoutskoolde japanese esdoring
verdeel die lug in
‘n sputterende rooster

die blootgestelde leer
trek sy bene nader
en nies van sy skilferende verf

die skilderdoek neem deel aan die hoerery
swaai, swem, skroef, rasper en oorweldig die oomblik
van wettelose energie

my flegmatiese reis-tas
oefen freneties
om die uitgedroogde sesame-saadjies te knyp

ek lê plat op my rug
laat die oop blou lug
sy eie lofrede versin

Saturday, 19 July 2014

warm staal

om warm staal
as skelet te hê
laat ek die moed van die dag
kan
voel
sonder
ophou

Friday, 18 July 2014

sus, oftewel sokker blues

            oftewel, sokker blues

deur blokke en sirkels word daar gestorm, gestamp
en gestoot
die toeskouers gaan mal

op die grasperke hardloop
die pienk tekkies
nee-dankie god vir borgskap!

die haarstyle kompeteer alewig met mekaar
in dringende nastrewing om die geruis van die skares
te crescendo

hoekom kan ons nie die fotograwe vervang
met digters om die sportiewe oomblik
vas te vang nie?

op die aansteekbord
van die nag
sien ek net swart sterre

die wynvat wat my elmboog wat
my hand wat my ken steun
skerm-verslawing maak mens so tam

as al die spel se skoppe die wêreld
van waansin
en hongerte sou red

maar nou sit ek hier sonder fluit
bloedloos opgewonde en onoortuig verbaas
dat sokker my siel so kan sus

Tuesday, 15 July 2014

in ons spore skyn die volheid

Die volgende gedig is geskryf ter nagedagtenis van 'n wonderlike ervaring om vir 'n derde keer die befaamde Otter-wandelroete te stap langs die Tsitsikamma kus in die Suid-Kaap.

in ons spore skyn die volheid

opgedra aan my mede-Otter-stappers

in ons spore skyn die volheid
van die glinster maan
daar is ‘n onverskrokke lus vasgevang in
die ritme van die klim
op en af
en
dan weer
ah
op 
en 
af
styg ons sydelings en
direk van voor die hellings uit
of dit nou ysige winde is wat
dreig om ons van ons voete te gooi
of die see wat heeltemal te vroeg
met 'n diep riviermond rendezvous hou
sal ons aanhou bly loop en klim
en kruip as dit moet

die seerotse is taai onder die klouende vingers
die sand kners ons tussen die tone en tande
maar glimlag ons diep
want die suur knoffel-reuk van die fynbos
maak ons hoog
my vingers gly oor fluweel proteas
en verbeel hoe die pelgrims van vervloë dae moes voel
met soveel getye, woude en wild wat al om
die enkels gluur

dit is stip-oog hinkepink oor klipstrande
behoud van balans grasie en humor
word gedryg en gedryf deur trillende spiere
mag die voetpad oor sand, klip en krans
ons nie laat wankel

dankie Otter vir die droomspore wat ons loop
oor wondersigte van oseaan en krans en woud!

die holte van my mond ril
soos dolfyne en walvisse
       stil-stil kerf deur die kolos water
kom lê die suisende inkantasies diep binne my keel
laat dit resoneer met herinneringe wat
blink met silwer skuim en glinster-golwe
wat diep in poele vasgevang word en
soos die getye
met die aantreklikheid van
die maan
orent
staan

dis die hart wat diep murmuleer oor die kameraderie wat
ons leer om in gelid en harmonie te loop
saam saam
jaag
  die
    asem
      en
        brand
          die
            bene
              met
                die
                    op
                      en
                 klinknael
             die
         knieë
    met
 die
af

nou sit ek ver daarvandaan
in ‘n stralekrans van seesout suurbos en koel-mistigheid
soos wat ek terugdink aan 
die bene wat vlieg oor die heide-plato’s
en ons geen einde ken aan
die vreugde wat vuur en feesvier in ons ledemate
soos          wat             ons                   die                                          vertes
met                         elke                      tree   nader bring

Sunday, 6 July 2014

woorde wat spring

woorde wat spring
wat dans soos die spiere van my lyf
letters wat om my kring
sin wat ek met my bene kan skryf

woorde my musiek my klank
waarmee ek kan dans
op die papier is die woorde mank
maar met my lyf kan hul gek wees en uitwans

ek trek my woorde aan
die woorde trek my aan

binnekort
begin ek my woorde uittrek
en die woorde trek my uit
nou begin die verleidingspel
en alle sinsualiteit word blootgestel

woorde wat rink-kink
en spartel en rol en
gryp en ruk
dit laat my nie los om
asem te skep -

ahahahhhh
moet die woorde bly skep

skep ons!
skep ons!
moet nie dat een van ons van die papier afrol
toe skep nou man skep
geen ophou geen stop
geen huiwer geen flop
geen dink geen kop

die woorde trek aan my hare
kom nou
hieriekant toe
daaikant toe
suig ons van die papier
spoeg ons uit jou mond
laat val ons waar
die dorstige mense ons kan oplek!

Monday, 2 June 2014

kern

daar skuil ‘n lus in die dieptes
wat stil-stil wag - dormant uitbundig 
dit is heilspellend hoe die vonk
begin tril met die afwagting van die koms
van die kreatiewe tornado
die grond is ryk
kyk hoe giet ons die diep-versonke metale
uit die primordiale smeltkroes
my klei-lyf resoneer met die vulkaniese uitbarsting
met hierdie bloed wat nie ophou vloei
bons die polsering van die dreigende feesviering
die kruine van die golwe hang vir enkele oomblikke
langer in die silwer skyn van die son
my hare staan orent
van al die stemme wat alom my kring

so vol lewe is organika
so baie golwe in elke dag
so veel kwiksilwer sparteling in die brein
die soeke na versadiging ken geen einde
die hart bly kolk al kom die niet teen die deur geklop

die grond word koud in die winter
die spoor word weggewaai
maar die lewe bly tril
die oer word oerer
die inkantasies word meer kontrapuntaal
en die ledemate word sneller
in hierdie dae wat so vlugtig vlerke groei

die elemente is ongenaakbaar
hoe hulle die vel verteer
tog bly die pols diep en sterk
die wilskrag is onverskrokke
in die stryd teen die skaamte
teen die vrees
teen die vlees
en
teen die donker

my rugstring ontdooi elke oggend
en waaragtig, dit is my vlerke wat aanhou kriewel
tot in die primordiale kern 
van sensasie van die embrioniese duister wat
gelukkig genoeg keel het
om te kreun met die moeds-wil van vlieg