Sunday 17 July 2011

Boheem

hoe kan ek opstaan vir myself
ek wat nie huis het
nie 'n betroubare eenkleurige kar nie
geen mediese fonds
geen lewensassuransie?

hoe kan ek vir myself opstaan met kieriebeen-arms
hoes-bors, afgekoude vingernaels en lae rugpyn

hoe kan ek vir myself opstaan?
ek het geen aandele
ek kan skaars politiek ekonomie of godsdiens gesels
ek is nie 'n bedrewe namedropper nie
ek praat nie die "lingo" nie

ek staan vir myself op deur my hardnekkige lus vir vryheid
noem dit boheems
ek hou van die kleurvolheid
die geurvolheid
die polsende ritmes
wat die woord oproep

hoe kan 'n boheem 'n gypsy
'n hippie vir haarself opstaan?

kan haar stringe krale
kan haar kruie-tuin
haar spruite
haar rou groente
haar red?

hoe staan ek vir myself op?

op my se twee kaalpote
met my andersheid
my ongetemdheid
my nuuskierigheid
met die vryheid om relatief los te staan
van 'n burokratiese grysheid 

daar is een toneel in die boek Don Quixote waar die predikant van die dorp die Don se huis invaar en al sy boeke verbrand - meeste van die boeke handel oor die knight-errants, ontdekkingsreise ens . die dorp het gedink dit sal die antwoord wees op quixote se wilde verbeeldingsreise. nee dit het dit nie gestop nie - hy het self die pad ingeval opsoek na avontuur en na sy geliefde Dulcinea.

dis my (boheemse) ondergang: die boeke wat ek lees.. aai te veel Zorba the Greek, Hermann Hesse, Jack Kerouac, Laurie Lee, Uys Krige, John Steinbeck, Tolstoy, Pasternak. die lewe van die haweloses, die reisigers, die uitverstotenes, die soektogters, die hand-tot-mond lewe. dis nie maklik nie, maar dis volbloedig. dis alleen. dis ryk. dis vreesaanjaend. dis uitbundig. dis onrustig. dis inspirerend.

wat my so aantrek tot die lewe wat ek lei is die onsekerheid, die verrassende vorms wat die dae aanneem  van 'n roetine-lose bestaan. (wees gerus, baie hippies beland uiteindelik in die groot korporatiewe maalstroom en maak miljoene, skaamteloos! do not fret! ons is nie hele-mal aan ons eie devices oorgelaat nie, iewers sal 'n sisteem ons aan die hals beetpak en ons saamsleep.  our redemption is close!)

kyk vir madame chocolatier in die film Chocolate. 'n corny maar gepaste voorbeeld. sy is anders. sy kan nie stil sit. is sy optimaal gelukkig? nee. kry sy vreugde uit die deel van eerlike vriendskap? ja.

wie is optimaal gelukkig?

ek probeer myself omring met dit wat mooi en uitdagend is. mense. musiek. kleure. beweging. kuns. natuur.

die tye wat ek "present" is, aanwesig in my lyf my hart en my kop is wanneer ek op my gelukkigste is. wanneer ek nie jaag na 'n doelwit, hyg na perfeksie, smag na vervulling. daai plek waar die bewussyn juig om eenvoudig net wakker te wees.

dis nie boedhistiese airyfairy goete nie. dis eenvoudig 'n vreugde put uit dit wat hier en nou is.

die wonderwerk van die lewe te vier.

ons doen dit te min.

ek leef teen my leeftempo. ek leef intens, maar stadig. ek vat lank om te groei met dinge. ja, ek kan vinnig leef. ek het. maar ek wil nie meer. ek leef nie die op-die-stoep-sit-lewe nie. maar daar is 'n aantrekking daarnatoe. hoe baie mense se hulle wens hulle kan minder doen, en meer leef.

ek leef

ek byt
ek proe
ek kou
dis soet
dis bitter
dis opdraend
dis huil
dis val

en dit is weer opstaan

1 comment: