Friday 27 March 2015

die Groot Gedig hy is oppad

die Groot Gedig hy is oppad
hy is al lankal oppad
dit is net jammer dat hy nog nie gearriveer het nie
ek hoor hom aankom al vir jare lank
maar hy kom net nie nader nie
die Groot Gedig is definitief oppad in my rigting
ek sien hom sidderend op die horison
hy is aan’t beweeg
maar hoekom is hy nog so ver?
hy is luid en vol self-vertroue – dit kan ek hoor
hy tril met dawerende geskal
hy is nie skaam vir die atmosfeer en wêreldtoestand
sy treë is groot en kordaat
maar hoekom wil hy net nie nader kom?!
sy stem is helder soos ‘n klok
maar geen woord hoor ek van hom
die Groot Gedig hy is oppad
ek voel sy warm asem teen my hakskeen
my lyf is reg vir hom 
trots en fier loop ek deur elke dag
hoop sterk dat hy my sal raaksien
die Groot Gedig weet van my
ek weet dit
ek voel dit
ek dink die grootsheid van die Groot Gedig
hou hom terug
keer hom om te vinnig
sy verskyning te maak
ek vermoed dit is een moerse Groot Gedig
want hy vat regtig sy tyd
hoe kan ek nou krom staan en moed verloor?
vandag is dalk die dag waarop hy sy verskyning gaan maak
en my dan gaan mis kyk
Lara, moenie opgee 
staan gereed 
vir die Groot Gedig
 - hy is oppad

1 comment: