Thursday 26 March 2015

moet ek?

moet ek die hele antropologiese geskiedenis en
die nuutste omgewingssake ken om poësie te kan skryf?
moet ek allerhande intertekstuele foefies inwerk
om my lesers te oortuig dat wat ek skryf digkuns is?
moet ek ‘n graad en pryse vir kreatiewe skryfwerk hê
om poësie vir die publiek op te dis?
moet ek ‘n dik, hoogdrawende aura om my hang
om myself ‘n digter te noem?
moet ek alewig melankolies tuur die afstand in
om daai versadigende metafoor vas te vang?
moet ek skryf waarvan die intelligentsia hou
om my digkuns op die rakke te kry?
moet ek gedurig wonder dat wat ek skryf
goed genoeg is vir die kritici wat soos aasvoëls
om die af-reuke hang?
moet ek die poësie ‘n afgod maak
voor wie se voete ek myself in alle ootmoed neerwerp
en my siel verkoop vir die verbetering en verskerping van my sinne?

No comments:

Post a Comment