Wednesday 25 March 2015

soos wat ek hulle glansende velle bewonder gaan die krag af

ek hoop dat hoe meer ek skryf
hoe beter sal my digkuns
én my handskrif word

dus sit ek hier in il postino
met my skryfboek en pen
om te kom skryf

deur die swaaideure sien ek mtv
flikker inaniteite binne
die vertrek met geen oë

die gegiste stroop van die hunter’s gold 
gly met my keelgat af
my vingerpunte ruik na roosmaryn

die italiaanse pizzeria se kombuis-personeel
is almal zoeloes
dis die uur voor aand-ete-skof begin

lag en klets en knie die deeg
die donker bek van
die pizza-oond lyk grot-stil

maar gou begin 
die vlamme skarrel en spring 
soos ape in ‘n hok

die sagte sillabes van die nguni-taal
motreën sag 
my oor in

sibilante esse en ooohs en sh sh sh
tla tla tla en oehm oehm oehm
eish eish eish

blink skyn die zoeloes se wange en soos wat ek 
hulle glansende vellle bewonder gaan die krag af
loadshedding hoor ek

ek verkies die donker
net kerslig wat die spoor van my inkpunt
verlig en ‘n lange pen-skaduwee oor die papier gooi

meer en meer mense kom binne
die donker skrik mense af maar nie 
as hulle honger is en weet die pizzas word in 'n vuuroond gemaak

rooi en wit blokkiesdoek
rimpel onder my vingerpunte
ek glimlag hoe die dae deesdae uitdraai

ek verkies as die ligte af is
die donker het so baie holtes
vir wegkruip in die middel van die hordes

No comments:

Post a Comment