Monday, 31 October 2016

alleen

ek ontdek hierdie gedig wat ek vandag, 31 Oktober, twee jaar terug geskryf het oor my pa, Louis <<<

die dag wanneer jy uit jou vader
se eie mond hoor hoe alleen hy voel
dan breek die spier in hou hart
soos splinters van 'n deurgekapte boom
ek voel hoe die woord ‘alleen’ deur my ore sny
ek is ver van hom
wat kan ek doen?
ek is ver
tog kan ek probeer om meer te gaan aanklop
maar dit gaan nie die alleen weg vat nie
daar draai ‘n stywe knoop in my keel
moet ek hom jammer kry
moet ek hom meer bel
meer sms
‘n boek pos
of ‘n bottels konfyt aanstuur?
niks sal die alleen wegvat nie
hy is alleen
punt
hy smag vir die saamwees van mense
die mense wat op sy grond trap
wat opinies het
wat dit uiter
wat hom maak lag
wat hom die moer in maak
wat hom na mense toe laat aantrek
en wat hulle net so kan afstoot
hierdie pa van my
hoe gaan hy daai alleenheid kan hanteer
in sy groot jas sit hy agter boeke
knus ingedruk tussen sy agt kussings en swart kombers
die drie worshonde is sy geselskap
so ook sy bome
sy orgidieë
sy mure
sy kenwood
sy mikrogolf vul al die alleen-spasies
stu hy homself teen die wit mure van sy huis
staan regop
huil
en skree
en lag
en maak die deure oop
bevry jou siel
praat hardop
sit maria callas full-blast
vir die hele neighbourhood om te hoor
praat met ander
bel
verf op jou skilderdoeke
tob maar asseblief nie te veel
kuier
haal asem
diep
in en
uit
en voel almal voor en na jou in die lug al om jou
jy is nie alleen
jy het die voor-en na-vaderse geeste wat jou besoek
vermaak hulle met jou fisika
met jou spiekragtigheid
met die volkleurigheid van jou bloed
gooi hulle met die skreeu van jou stem
die bulder van jou bors
EK IS NIE ALLEEN NIE!

No comments:

Post a Comment