Thursday 13 October 2016

ek wil net sit tussen jou goed

ek wil net sit tussen jou goed
net sit en sit en sit
niks wegpak nie

dit is nou amper 3 maande na jou dood
en nogsteeds om te sê jou dood
wil net nie gemaklik op my tong lê nie

ek en ma sonja gaan die laaste week na jou huis 
om jou dinge te begin oppak
ons het begin met jou boeke

ek moes elke liewe boek oplig en deurblaai
om stukkies van jou vingers tussen die blaaie te kan indrink
jou kuns en botaniese boeke was die moeilikste - dies was jou gunsteling

en vandag het ons jou klere uitgepak
jirre ek moes elke stukkie teen my neus hou
om myself diep in jou reuk te kan invou

jy is nog so aanwesig in elke hoek
jou gees is nog so lewendig
hoe kan ek jou goed net so in bokse en swart sakke wegpak?

ek kan nie glo ek doen dit aan jou dinge nie
jou dinge wat jy met soveel intensie en 
kreatiwiteit georden het

gee my krag of 
maak my blind en gevoelloos
want niks het my voorberei op hierdie pynende verlange

No comments:

Post a Comment