Monday 10 October 2016

wou

Many stars are in heaven.
There are whole clans of people - 
men, women, and children - 
long since become stars
 - Stephen Watson - Return of the Moon: Versions of /Xam

jy wou ons nog een keer die Johannesburg stadsliggies wys
van bo-op jou huis se dak in Turffontein

ons wou jou nog treat by die Mojo restaurant by Zoolake
vir jou verjaarsdag brêkfis

ons wou jou nog vat op die stoomtrein deur die aalwyne 
van Creighton in Oos-Griekwaland

ek wou nog een keer sien hoe jy tussen al jou skilderye staan
en gloei soos jy vertel van 'n nuwe teken-tegniek

ek wou nog gemakliker en vertroud raak met jou 
om vir jou in die presiese woorde te sê
hoe lief ek jou het Louis

ek wou hê jy moes nog een keer in
'n lang warm bad klim om 
al die pyn, bitter en lewensmoegte weg te was

ek wou nog een keer hoor hoe jy sê
it is not what you say
it is that you say

daar is net te veel dinge wat ek nog met jou wil deel
ek sal dit maar met die sterre deel
want iewers vanuit die gewelf glo ek 
jy wink vir my

No comments:

Post a Comment