Tuesday, 25 October 2016

my siel is swaar so swaar

dit is in die oorlading van emosies en herinneringe
wat ek nou na my tikbord kom
om woorde te soek en 'n helderheid in my siel te koeël
die dae is warm
die eerste lente sonder jou
die rose blom
die sonneblomsade ontkiem
die bottelborsels pronk hulle pluimtossels al in die wind

vandag het ons hele 'n klomp swart sakke met afval op jou straat gesit
vir die pickitup trok wat sonder 'n grein van simaptie of grasie daarmee 
in die niksseggende niks inry
dinge uit jou huis wat oud, verstreke, geskeur, vuil, stukkend
of net eenvoudig in onbruik gekom het
onder andere twee pick en pay sakke vol ou speserye en kruie
ek het vir dae nie die hart gehad om die botteltjies uit die laaie te haal nie
jy het nie veel van die speserye gebruik 
maar tog was dit netjies ge-etiketeer en alfabeties gerangskik
anys tot by turmeric

my oë hang swaar van die weemoed
ek staan op in die oggende
haal diep asem vir die Groot Pak
ek gaan getrou saam met ma sonja na jou huis toe
63 bellavista weg
suid-johannesburg
maar my hart sleep
ek skud sakke oop met 'n leë hart
ek vou bokse oop met 'n hangende mond
ek pak boeke, skilderye, potlode, kwaste, lappe, 
klere, borsels, naelknippers, 
origami en jou alomteenwoordige handgeskrewe notes-to-self weg
elke objek en artikel doelbewus gekies en gebruik deur jou eie hande

jy was twee-en-sestig jaar in hierdie huis
dit was jy wat elke stuk oppervlak in hierdie huis betekenis gegee het
maar nou sonder jou hang daar 'n futiliteit aan alles
ek is verbaas dat ek nie self in 'n depressie verval nie
ek is hartseer 
moer-hartseer
maar ek bly 'n dryf in my voel
weet nie vanwaar
ek wie so maklik self in futiliteit kan verval
ek het net die nodige energie in my
wat dit moontlik maak om in die donker kuil se oë te staar

tog deur die dryfkrag bly my hart maar sleep
ek het nie tans 'n rede om djollie te wees nie
vir die eerste keer in my lewe voel ek
NOU het ek die beste rede om so hartslepend te voel
vorige kere was my swaarmoedigheid gekweek 
deur ondankbaarheid, onvergenoegdheid
en plein luiheid en onkreatiwiteit 
maar nou voel hierdie swaarte soos 'n ware swaarte
geen om dit dink en om dit voel gaan dit weg vat nie

in die eerste maand na jou dood het ek so lig gevoel
so surrealisties lig dat jou lyding gebreek is
maar nou na drie maande het die swaar klippe van verlies 
in my hart kom lê
en ek wil net lê 
want my siel is swaar
so swaar
sonder jou

No comments:

Post a Comment