Thursday 20 October 2016

my hele lyf huil

my hele lyf huil
die leegte is nou net te groot
my rug is moeg vir regopstaan
my voete sleep

my pa was groter as groot
met al sy kompleksiteite
en teatraliteite het sy bestaan
my lewe so ryk ingekleur
daar was 'n opwinding
asook 'n senuweeagtigheid 
om hom te ken
beide vrees en jolyt
om sy dogter te wees
ek kon nooit wag om my vriende 
aan hom voor te stel nie
aai om met hierdie besonderse pa van my te spog!

ek was nie een van daai kinders wie nie saam met hulle pa gesien wou word nie
ek wou hê almal moes sy sterk mooi kuite sien
sy trotse kaalvoete
sy verf-bespatte klere
sy humor en intensiteit

johannesburg was gelyk aan Louis
om nou na die goud-stad te kom
en weet hy is nie meer hier nie
maak my ore pieng van semi-waansin
ek voel so gestroop
soos 'n boom van haar bas, takke en blare

vanaand voel ek die brand van die sny
'n waaragtige amputasie

ek kan dit nie help
maar ek is so seer en flou 
tot in die murg van my murg

No comments:

Post a Comment