Wednesday 10 June 2015

asseblief

uit die kilte wat uit die skaduwees trek
voel ek hoe die ys-toue van die winter
kouer en nouer om my trek

in die saaiheid van die lewe
probeer ek
digterlike sin te kry

want hoe kan die dae net so verby steier
en die droesem van my drome
so aan my verhemelte klou?

vanuit die niet kom iets
en vanuit die roes kom iets blinks
weer gegroei

die warm son vou oor
my ledemate
soos ‘n warm duvet

moet die nag nie kom nie
want dan word die lyf koud en stil
en dink ek vanuit ‘n eenvlakkigheid

asseblief laat die dae terugkeer wat ek
die koue wegdans
met bene verstrengel in warm ritmes

No comments:

Post a Comment