Saturday 6 June 2015

ek draai in sirkels met oë wa-wyd oop

ek draai in sirkels met oë wa-wyd oop
totdat ek kind-naar word
ek wil oefen om al die objekte in die draai-kolk
met sekuurheid raak te kan eien
ek sien 'n wit-glans boud met poësie opgeskryf
 - iewers het neruda ook 'n sê gehad - 
die jong seun kyk met 'n afstandelikheid na 
die groen artisjokke
onder my gryp die weefsels van die mat 
my stewig aan die sole
hy vermoed ek gaan heel waarskynlik binnekort omtiep
in duiseligheid
maar ek kan nie ophou draai en kyk
dit is grasdakke en houtpale wat elke keer teen
ander hoeke in my oog val
en dan is daar die sagte kopkussings
en die blink kasdeure
wat soos halva en kakao-poeier inmekaar smelt
my ooglede wil nou swaar toeval
maar ek hou aan
asof ek die marathon hardloop
en beide die grieke en romeine wil oortref in prestasie

No comments:

Post a Comment