Monday 8 June 2015

gereed om te sterf

die son is ‘n klok
wat my ledemate met sy
golwe warm resoneer

ek staan ekstra regop in die kafeteria om beter
die tuisgemaakte roomys te kan betrag
ek kies die amoretto en suurlemoen

ek gaan sit buite in die winterson
en tel my seëninge in
elke tandrillende happie

dis koud in my keelgat maar o so warm is my vel
ek kan vir ure lank net so sit in die son
en vergeet van enige grootmens-plig-of-strewe

waaragtig! die hoogtepunt van
bekoring
is my vel in die son

dis soos droom, skep, dans
jy voel die harmonie van die sfere helder in 
jou siel vibreer

jy voel die grense verdwyn 
soos jy saamgeweef word met alles en almal
jy smelt in ‘n diepe geluksaligheid

ah nee, ek moet bieg dat vel in die son oortref word
deur die gloeiende bekoring van 
die liefde vir jou

want om lief te wees 
is so vervullend dat 
ek gereed is om te sterf

    dit is heerlik om te dink aan liefde en sterfte
    veral as ‘n mens dit kan doen in
    die skyn van die son

No comments:

Post a Comment