Friday 12 June 2015

waarheid en woord

die woorde bring die waarheid uit in my
daar is nie ‘n manier om my waarheid te ontsnap nie
ek kan aanhou woorde skryf terwyl ek
my waarheid probeer vermy of onderdruk
maar net vir so lank

ek kan nie in woorde sit wat hierdie waarheid is
tog voel ek wanneer ek in die waarheid leef
en ek voel wanneer ek nie daarbinne leef nie
en so ook weet my digkuns dit
en geen truuk of masker
sal haar flous nie

sy werk saam tot op ‘n punt
as die grens van waarheid na 
onwaarheid oorskry word
weet sy dadelik
omdat sy so diep verweef is in 
my hartklop, bloed en vesels voel sy onmiddellik 
wanneer my kop en lyf in onwaarheid 
en onderdrukking verkeer
sy weet sodra my pols verander
en die kleur van my bloed vervaal
sy skrik wanneer my asemhaling 
die gewone uitbundigheid kort

hoe ookal ek kulkunstenaar speel
ek kan net nie my digkuns fop nie 

No comments:

Post a Comment