Friday 8 April 2011

ek wil eerder stil wees

ek wil eerder stil wees
met niemand woorde aanknoop
geen woorde opskree
vanwaar gaan my woorde kom?!
geen god gaan my woorde bied
geen suurstof gaan in
‘n enkele woord alchemeer
geen lip van my gaan
in ‘n sillabe krul
stil gaan ek wees,
stil!
my verhemelte gaan op my tong neerdonder
as die koeёl van ‘n enkele woord
my mond oopruk
stil gaan ek wees,
stil!
kyk! die oppervlak wat die mond in die hele lyf beslaan
gaan kyk ‘n bietjie hoe klein die mond is in
verhouding tot die res van die lyf
loop deur die restaurante van die monde
die skole van die tonge
die toesprake van die spoeg
die hofbevele van die tande
die preke van die verhemeltes
dit is nie dat ek teen die
klank van spraak is
maar wel teen die woord van spraak –
die klein donker gat waarin jou brein val
en met bloeiende spoegspatsels
oopbreek
die gat van verderf
gee my soen gee my lek
gee my suig gee my smul
maar gee my geen woord
wat die binnewande
van my mond vandaliseer nie
gee my geen woord!
gee my eerder
spoeg gil snik spoeg
wat my mond uitkalwe
tot asemrowende spelonk

No comments:

Post a Comment