Monday 25 April 2011

Klei

Hier die eerste deel van Klei verewig (wat ek by Afrikaburn Kunsfees
in klei-bedekte lyf gaan voordra) :
Voordat ek die dans en spel met stof en klei gaan vertolk, is ek in
die grond "begrawe". Uit die grond begin ek kruip, krioel, krap om dan
geboorte te gee aan my lyf en my tong wat dan die "toneel" verder gaan
uitle:
Uit modder, klei en grond trek ek hierdie lyf
Vorm, knie en druk my tong
Dat dit tot beeldskone vorm deur die gallery van my mond kan storm
Gee my klei waarmee ek oor die valleie en dale van my lyf kan wy
Om te eet aan die vrugbare grond wat so verleidelik deur my kieste gly
Sodat die woorde in goud uitslaan
En onbeskaamd op die vlaktes van my tong sal bly staan
Op die pottebakkerswiel draai ek my tong
Laat dit spin
En met perfek konsentriese lyne my sinne oorwin
Gee my klei en ek word god in een oomblik
Met een druk van duim
In een rol van handpalm
So bepaal ek my eie lot
Laat geen vel of deel van my gaan afvrot
Hervorm ek my lyf tot die beeld van my eie god
Ja, my eie god is ek
Knie, druk, skaaf en beitel ek myself
Om by my diepere wese deur te dring
Om sodoende in vloeiende vorm te kan ontpring
Dit is met die wonder van klei waarmee ek toor om lyf te gee, lyf te neem
Uit modderige vrugbaarheid
Lyf wat kan buig en skarnier, lag en loop, juig en huil,
So bitter kan huil oor die ryke skoonheid
Van lyn en vorm, kontoer en tekstuur
Wat klei in so tasbare rigting instuur
Uit premordiale modder sif ek ledemate, boude en dye
Brei die spiere van my lyf met die klei van die aarde
Dat wanneer ek tot niet gaan
Die grond-aarde my lyf makliker kan herken en verstaan
En sonder moeite my selle kan verteer
En my siel tot in die harts-aarde kan assimileer
Soos appels en koringkorrels voed
Die klei-grond my bloed
Bring ek my lyf aarde toe elke dag
Ruik ek die stof
Ruik ek die diep, nat fertiliteit van modder en grond wat by die ryk
slik en slym poele van die aarde uitmond
Wees versigitg waar jy trap
Want elke dag gee grond geboorte aan menigte wesens waardeur die lewensbloed tap
Wees versigtig want jy trap dalk op iets nuut en kaal,
Iets wat nou net begin asem haal.

No comments:

Post a Comment