ek begeer
vernuwing
in my taal
die taal wat ek
die beste ken
die
digterstaal waarin ek my siel
druppel vir
druppel
laat indrup
ek staan op die
drumpel van vernuwing
in hierdie
digterlikheid maak ek vir myself sin
in hierdie
uitdrukking kan ek in een asemteug
myself aan die
wêreld blootlê
ek begeer
vernuwing
‘n vernuwende
insinking in die woord
want in die woord
vind ek ‘n kalmte
‘n sielstoestand
waar my malligheid toet-tale aanvaarding kry
ek begeer
vernuwing
‘n sin van wees
waar ek soos ‘n stuk klei
perfek gevorm in
rondheid
glad en maklik in mense se hande sal rol
en my woorde in die honger holtes inglip
ek het lanklaas woorde neergepen
die voorafgaande versreëls lyk nou so vreemd
my oë kry nie lekker vat aan die griffels op die blanke vlak
tog is die begeerte om vernuwing in my taal te soek
so groot
wat is dit aan
hierdie skryfkuns wat my heeltyd laat
jeuk en kriewel in
my sitplek
in my stap
in my lê
in my eet
in my slaap?
ek begeer
vernuwing
‘n verandering van
hart
‘n verdieping
‘n inkoeëling tot
die diepere vesels waar
ek dit nog nie
gewaag het nie
in hierdie paar
lyne voel ek hoe die vernuwing opdam in my kieste
met trane in my oë
en
my lippe bewend en
trillend van
die weenklaag wat
triomfantelik deurbreek na
die joviale
uitroep van kreatiewe wilskrag
wie se tyd nou
aangebreek het