Wednesday 29 September 2021

jy vra wat is my geloof

my geloof is my dissipline wat 
my sielkunde my talent
my lyf my kop 
ondersteun versterk en onderhou

my geloof is my lyf
my tong
my slaap
my vingers
my dans
my musiek
die wêreld se musiek
my digkuns
die wêreld se digkuns

my geloof is my oë
my estetika
my ritme
my kindness
ander se kindness
my lus
my lewenslus
my energie
my vonk
my nuuskierigheid
my ervaring
my herinneringe
my onskuld

my geloof is die natuur en die elemente wat
my lyf bly aantrek om lewendig
en uitbundig te oorleef

Tuesday 28 September 2021

Stanford haiku

die gaap skuif uit die lyf
bene buig neer in moegte
more-son loer in


koue Stanford lug
voete draf oor die nat gras
harte klop vinnig


blou pen in die hand
blou rivier oor die papier
skadu steel die lig


duiwe en kinders
keelklanke roer die blou lug
my keel bly toe


klein dorpie stilte
kar jaag verby die vrede
my oë volg sy stof


poppie in my hand
die duim kry groot gly-plesier
my gemoed-salfie


ek haal diep asem
met polsende lugpype
vul die longkamers


pendoppie in mond
lippe dink wat om te skryf
spoeg skyn in die son


kussing sus die oor
hare tuimel in vryheid
die gesig gee oor

Monday 27 September 2021

Ontmoeting tussen foto en gedig



die seisoene
skil
die dae
kalm
een vir
een
van die rame
van
vensters


diep in
die binnenste ruimte
van die hart
trek die uitmergeling
die ootmoed
die verleentheid
die spyt
die weemoed
die verlange

vlak op
die buitenste ruim
van die vel
bly
die
son
skyn


sy regopstaan
in stukke
opgekap


mannekyn

waaragtig nie ‘n harlekyn of vrouekyn
maar inder-woord
‘n mannekyn!

wil die man-heid 
selfs op bloed-en-koplose pop
sy stempel plak!? 


uit gritserigheid
word die
vertederende
vreedsaamheid
van slaap 
gegiet

***
fotos geneem op die Goodwin plaas, Lidgetton, Midlands van KwaZulu-Natal

Sunday 26 September 2021

niks is dringend

as jy besef 
niks is waarlik dringend
dan het jy vrede gevind

alles gebeur in hulle eie goeie tyd
wanneer jy die intuitiewe tydsberekening vertrou
dan begin die klok volgens
die wyser van jou hart te loop

niks 
is 
dringend

alles val 
vanself
in plek

Saturday 25 September 2021

daar is jou asem

      vir Kim

ek voel jou asem dartel
uit die gleuwe tussen my klavier se 
swart en wit klawers
soos vlerke fladder jou asem
tussendeur my vingers
selfs deur die stadigste melodie
daar is jou asem
gereed om nes te maak in
die oopgestrekte webbe van my vingers

ek buig af totdat my neus amper
die klawers raak
ek laat jou koel asem
my op my lippe kielie
ek rus my kop teen die klavier se deksel
ek glimlag groot
want ek het nou net jou 
hele asem deur my mond ingesuig
nou is ek reg om Granados te speel

***

Kim's answer:

I will change my peachy colour
To black and white
Mould my rounded form
To hard rectangular keys
Turn my gut into a wooden chamber
My bones and sinews
Will become a metal frame and fine steel strings…
And when your fingers play me
Rhythm of my heart
Resounding in my mind,
I believe I will know your very soul
And for a time
We will be one.

Friday 24 September 2021

hoekom so onmooi?!

hoekom is so baie digkuns so obskuur
so onverstaanbaar
so onpylbaar 
so woordeliks
so kultureel-verwysend
so mite-deurdrenk
so metafories-insinkend
en net plein onmooi?!

lesers het tog oë
lesers het tog harte
skryf dat hulle sal naderkom
skryf dat hulle hulle warm hande oor hulle oë sal vou
en die ware bewondering
van die digkuns deur hulle ooglede sal voel brand
geen leerskool of akademie
het die resep vir die digterstaal
kultuur hou nie al die sleutels van 
die digterslewe nie


Tuesday 21 September 2021

ware stroping van onnodighede

bly griffel in die ritmiek van die letters
kry my vredigheid in my kreatiwiteit
sif deur die cover-ups
die twyfelagtighede
die onbetroubaarhede
die sussing
die luiheid
die geraas
die informasie
die vergelykings
die verskonings 
die gewoontes
skryf dit alles weg
breek deur die skanse na
die digterlike lug
laat my hele lyf sink in die diep kern van die woord
'n ware stroping van onnodighede
om reguit by die digterlike punt uit te kom
my kop draai al 
om die soete dronke herinneringe van
vrye vreugdes en nuwe ontdekkinge
ek het so 'n opgewonde hart wat meer en meer bly-wees wil ken
as my hart hierdie een papier is 
wat sal ek daarop skryf vir mense om te lees?

Friday 17 September 2021

nog mens nog vlam

ek sien die mense wie verby my loop
en bewonder elkeen se hier-wees

hulle het glip gly stik crash bang
val huil vuur virus 
water mes gif van die aanvallende lewe oorleef
om hier te staan

nog mens
nog vlam

Thursday 16 September 2021

teen die inhokking

deesdae voel ek so kloustrofobies 
met 'n boek of foon voor my oë
ja, die twee dinge sluit wêrelde oop
maar as ek net begin dink aan die fisiese spasie
wat 'n foon en 'n boek inneem 
- so min, so klein -
ironies hoe sulke klein objekte 
 - wat ek sonder sweet of moeite
tussen my vingers fliek -
my sig en brein so kan kolonialiseer
ek wil dan
 - sonder doekies omdraai of fokken beskaafde eufemismes gebruik - 
KOTS!
dis waarlik 'n fisiese reaksie
tussen my oë, kop en maag

gee my die oop, uitspanselende landskap
die stuwende lewendige oseaan
die wonder perkeloosheid van my verbeelding
dit alles is medisyne teen die inhokking
die inhegtenisneming van my oë

Tuesday 14 September 2021

maar die honger bly

ons sit almal vasgenael aan
ons fone
bukkend-desperaat opsoek na
die antwoord

honger vir heling 
vir samestemming
'n bevestiging
'n vonk
'n deurbraak
wêreldvrede
hongersnoodverligting

maar die honger bly
honger

honger

    honger

Wednesday 8 September 2021

one breath

with one breath
i blow the universe from my mouth
i step on the accelerator of my tongue
rev so that the smoke peels from my ears!

haiku

ek skryf die vrees weg
in sewentien sillabes
haal ek weer asem


die see roep my hart
hy wil met haar speel vanaand
see, kom toor haar weg


wolmus op my kop
lê ek by die oop venster
wil die see insluk


blindelings skryf ek
tas met lompe vingers rond
wat vra die haiku?


ek gryp die pen styf
huiwer nie hierdie keer nie
die digkuns sal rys


die see ken ritme
die see is vol self-vertroue
laat ek in haar klim


sewentien polsslae
drup van my honger tong af
 - toe, lek vinnig op!


ek maak my oë toe
gedig rus op my gesig
voel die verse toor


pamperlang my tong
dan sal die woorde kom
bederf my dig-klier


kortpad na die hart
is die diep asem van rus:
die tevredenheid