Tuesday 31 December 2019

hoe anders?

hart is deurvloei deur 
die yster van bloed
hoe kan 'n hart anders
as om sterk te wil wees?

Friday 20 December 2019

staar

beide die lewe en die dood lê in my mond
altwee kompeteer vir verbale aandag op my tong
daar is net ‘n stilte wat my keel wil sus
oor geen van die twee wil ek nou dink nie
net ’n bloue vakuum wil my geestesoog teen vasstaar

Sunday 15 December 2019

ek bid met en vir my tong

ek bid vanaand dat as daar 'n hemel is
my tong reguit soontoe sal gaan na my dood
en as een van my liggaamsdele kan inkarneer
dan wil ek hê dat dit my tong is wat herlewing sal ervaar
'n tong sonder herinnering of
bewussyn
'n tong met net die hier-krag
die nou-krag
‘n tong wat vir geen iemand
se onthalwe sal klink of rol nie
net vir die onthalwe van haarself -
vir haar eie spierkragtige verrukking
mag my tong die een wees
wie die ewige lewe mag ervaar
en in eindelose kolke en maalgate
die ore van die grond altyd sal bly bekoor
ek bid
ek bid
ek bid met en vir
my tong vanaand

Saturday 14 December 2019

waaraan?

fiksasies en slegte onwillekeurige gewoontes het 
die gate in my kop diep ge-erodeer
as daar so baie gate is
waaraan kan my woorde klou?

Wednesday 4 December 2019

ek sal altyd stukkies van die waarheid inasem

deur die tekens van die trekkrag en invloed van die afgestorwenes
is daar steeds die oorheersende honger vir die genadelose opregtheid van klip
en kan ek altyd doen met die aanmaning tot
die liefde vir vry en wilde plekke
sodat ek na myself kan terugkeer met oop gemoed
en fris en vars van voor begin

daar bulder stemme in my bors
ek is nie alleen nie!
ek sal altyd stukkies van die waarheid inasem
en stukkies van die droom uitasem

laat my oë oop en wyd strek sodat meer lig en skoonheid in kan stroom
geen luide gekerm sal iets kan verander
iewers sal die vreugde weer op my hartseer-bevlekte wange skyn

goue lyne kronkelend rondom die wolke
sal die luidrugtige poësie in haar eie onbegrensde ritme spel
die wolke is nie altemit die wasems van my voorvadergeeste
wat my keelklanke toejuig
'n sagte lig sal deur die donkerte breek
kom digkuns, breek oop met oorgawe
sprei elke versmaat oop in die dans
en laat elke asem oopbreek in verruklike vonke

Tuesday 3 December 2019

die visioenêre waatlemoen breek in stukke

die visioenêre waatlemoen breek in stukke
op die geteisterde teer
die agterdogtige akkedisse skarrel opeens
in wye sirkels om die sanikende stroopspatsels
die eenoog eekhoring trippel in pastorale parentese nader aan die soete mise-en-scène
die merkwaardige mites probeer hard om nie
onder die klas van buitensporige bewerings
gekatalogiseer te word nie
dit is so 'n onbeduidende onreg wanneer
die argetipiese aksies deur die peremptoriese patriarge en burokratiese boelies so waansinnig weggevee word
die parate pruimedante en pluimende proteas
omsingel die fanatiese foonaanbidders en
hulle kettingvormende kak
en smyt hulle die suigende seestrome in
dit is te verwagte dat die duistere dwingelandy 
waaronder ons onsself en ander sit
die yslike eina veroorsaak waaraan die weemoedige wêreld ly 

ek staan aspris

ek staan aspris in die weerlig
op die mees trefbare punt
ek wil getref en geskok word tot in
die kern van my senuwees
al moet ek pikswart skroei
wil ek uit hierdie
knaende vonkloosheid
gepluk word