Tuesday 26 March 2019

die tee-gedig

met tee-tyd besluit ek om ‘n tee-gedig te skryf
dit sal die toonaangewer wees vir die res van die dag
daar sal skaars ‘n ander tee-tyd homself aanmeld
vir hierdie geleentheid
moet nie jou tyd met die tee te na kom nie
pluk blaartjies tiemie en gooi dit om jou territoriale grense
die tessitura van jou stem sal verstaan word
en die tannetrekkers sal uit jou pad bly

hierdie tee-tyd is daar nie tyd vir tierlantyntjies nie
die verse sal met terrasdinamiek die energie so dramaties
vasvang dat die toffie-appels die tande sal laat kraak
tevergeefs hou jy die trajek dop
die tierlelies sal blom ondanks ons weer-voorspellinge
ag hoe lekker om ‘n topografies-interessante gedig te skryf
hoog- en laaglande sal baatvind by 
die verskeidenheid temperamente

ek loop tastend deur die tapioca-poeding 
wat hulle opdis by die tee
die teefhond wat by my voete lê jaag 
die kleine toppies uit die druiwe-prieël
ek dink skielik aan tirolie in switserland 
soos wat ek nou hier tussen al die tee-goed staan
die toast met tamaties word op skinkborde 
deur rye honger monde ingehuppel
ek bly neurie op die tonika van c in
die gevoelvolle en gepaste teneramente styl

in die hand van ‘n troebadoer is ‘n tamboeryn 
waarop ‘n tamaai tameletjie ingewals word
aaijaaijaai, die tragikomedie van hierdie soet tye
dinge raak net soeter
nie maerder of beter of gelukkiger
die tarentaal word ingekatrol oor die grondpad
hulle lyk soos spykers wat uit dakke lostrek
hulle tjirre gille breek deur my timpanum
die stof trek opwaarts in ‘n tregterende tornado 
oor toring en trekboer

terwyl die trigonometrie die graad twaalf kind ontwyk
voel die juffrou hoe die dors haar tande styf trek
sy probeer hard om met behulp
van taktiele taktieke
die volgende tee-tyd om tien
nader te roep