Sunday 30 April 2023

gaan haal ek haar

wanneer my woord kromrug trek
en vertroue verloor in haar digterlike sin
gaan haal ek haar saggies van
die muwwerige blad en lê haar op my tong
daar vind sy vernuwing en herlewing
proe sy die lewe anders
en spruit ver en hoog
in digte blare-takke

Thursday 27 April 2023

tangos en hiërogliewe

soos 'n ondurige tango
ruk die winde die lug heen en weer 
die wolke tol soos tientalle voete in 
die ontstuimige dans
met sikloniese onwrikbaarheid
span die winde hulle kuite
en sny met beslissende ritmika
hygende hiërogliewe teen 
die skynmuur van 
ons verbeelding

Wednesday 26 April 2023

begeerte

begeerte vir woordkapperjolle
fynbesnede metafore
ondeunde rymelarye
wat een na die ander
van die tong afrol
en die vermaaklikheid van
die poësie
herskeleteer

Monday 24 April 2023

fly me to my heart

fly me to my heart
where i can fold my wings tight
and warm around 
the volcanic core of anticipation
waiting to leap and cascade
with lavacious vivaciousness!

Sunday 23 April 2023

perfek

dit begin met die eerste tree op die blad
vandaar af sal dit net maklik gaan
daai eerste tree van oorgawe
ontkoppeling
vertroue

wees soos die oseaan
perfek in elke oomblik

die lug is perfek
die golwe is perfek
my bui is perfek
selfs die moegheid vroeër vandag
was perfek
dit het my laat uitkom opsoek na ander perfekte oomblikke
die koue water is perfek
die rotse wat oor Lover's cove kywie hou is perfek
die resident seagull is perfek
die sand se insinking onder my voete is perfek
die gil uit my keel met die eerste onderwaterdompeling is perfek
so cool so sexy so confident so suave is elke oomlik

die strewe swoeg en sweet om perfeksie te bereik is so outyds! 
moenie werk maak van daai perfekte oomblik nie
die perfeksie sit alreeds reg onder jou voete!

Saturday 22 April 2023

wie het vlerke nodig?

springgetye skuim vuurwitwarm
in ongeewenenaarde hoogtes oor
die kuslyn van my hart
my are bokspring in nuwe kinkels en kabels
en hervorm die spoed en rigting van my bloedvloei

in hierdie ongekarteerde seisoen
vlieg julle met hernieude vlerklose lywe

wie het vlerke nodig as jy 'n digter in die omtrek het?!

Thursday 20 April 2023

die verrukking in die slukpyp van die see

my are sluk die getye heel in
en ek word 
golf 
    soutdruppel
seewier 
        diep sonlose kolk
wat spinnend en tollend
na die wilde elegansie van oorlewing pyl