Sunday 19 April 2020

soos 'n taksidermis

soos ‘n taksidermis
vat ek die dooie gedig
en stop dit op
plak met bewende vingers
sy smotsige vere in deurmekaar metafore vas
en hoop die wêreld sien
nie sy onpolsende hart raak nie

Thursday 16 April 2020

grootbekke

dit is hartverskeurend hoe grootbekke 
hoogty vier in hierdie wêreld
ek skaar my maar by die sonskyn
om my sin van standvastigheid te gee
ek nooi die malvablomme en 
die tarentale om saam met my 
in die voortuin piekniek te hou

Sunday 5 April 2020

die peristalse bly benoud

die peristalse bly benoud
omdat ek die konvensie in my bewerasie gewaar
ek bly dans om die spontane blydskap astraal 
en prontuit uit my tone te laat bloei
my agonie en aggressie word sagter
moenie so besitlik wees oor jou karmenaadjie
haal dit uit die uitsonderlike parentese
die drukkieklikkie raak al hoe meer loslit
soos wat die murgmeter se grafiek verwoed op en af  dans
die wêreld se gemoed raak so katatonies dat die asteroides geen lus het om naby die aardbol verby te wals nie
ek het soveel oog, oor en hartlogika
die bleeksielige opsigter van my beendere
moet gedurig die brandblussers byeenroep
om die wegholbrande in my sinuwees te bedaar
asseblief hou die kliniese klousules ver weg van my digkuns
ek wil met geen era   seisoen  verwagting    of media handskud nie

Friday 3 April 2020

verbly

die spektrale kariljon bly in my ore lui 
lui alle klaagliedere uit die pen uit!
laat ek die filigraan idée fixe vasvang 
en dit opklits tot een pronkende pou
dit sal die poppemeesters verbly