Saturday 29 February 2020

duisternis

die nadenking van
die problematiek te vinde
in die regverdiging
van nagemaakte informasie
en die blinde verdediging
van onopregte kuns

die sinmaak is alreeds arrogansie
van progressiwiteit

tuimel

die

l
e
t
t
e
r
s

die

d
u
i
s
t
e
r
n
i
s

in

Friday 28 February 2020

maak dit saak?

maak gedigte begrip
of maak begrip gedigte?

***

maak gedigte misterie
of maak misterie gedigte?

Wednesday 26 February 2020

klank-spiere

in die kaskades van akkoorde wat val in die diep poele
van tyd
hoor ek die geeste gly deur die vingers se verbeelding
die klank-spiere skarnier met bedrewenheid
deur die oortonnels
die ontspanning en spanning in elke klank
kalibreer elke keer 'n nuwe hoopvolheid
dit is son vir die sintuie
wat deur elke porie insyfer
en die hart toor tot 'n bronsrooigoue klok
wat uit nuwe hartkamers tril en beier

en nogsteeds bly die kern van klank 
so glibberig 
dit gly gedurig uit ons tastende hande
ons soek beheer
ons soek tyd
dit is die musiek waarmee ons buite tyd kan klim
en dit is met musiek wat ons nuwe tyd kan maak
dit is ons verslawing
ag as die musiek maar heeltyd deur my siel kan filtreer
en my gemoed stroop en suiwer

ah musiek! wees genadig wees goedhartig wees geil
sonder jou stotter ek aan die sillabes van die lewe
met jou in my ore is niks vergesog
jy groei oor my hart soos mos oor klippe
maak die genadelose hoekigheid 
binne my
so sag en plooibaar
soos jou klank-spiere

Saturday 8 February 2020

ironiese onreg

by Gearing's Point in Hermanus
vanwaar mens die mooiste kuslyn vir myle kan sien
met die berge en lug wat alles perfek omlyn
staan daar 'n paartjie
 - selfone in die hand - 
ek hou veral die vrou dop
tydens die lang en uitgebreide voorbereiding van 
die hele selfie proses
is haar mond strak en nors
naarstigtelik opsoek na daai perfekte komposisie
van gesig en see
 - haar boyfriend tol iewers vergete in sy eie selfie-sikloon - 
soos wat sy net reg is om die knoppie te druk
verskyn daar verbasend 'n glimlag op haar gesig
so onspontaan
so geoefen
so aangeplak
so geselfie
soos wat haar foon wiegend oor haar kop troon
val haar oog op my 
ek glimlag met deernis vir haar 
haar eie glimlag verdwyn in 'n oogwink
die strak en norse mond is weer terug
genade!
almal aan die ander kant van daai foto sal net like knoppies druk
min wetend dat sy net vir haar skerm smile
nie vir die lewende mense om haar
nie vir die see
nie vir die berge
nie vir haar boyfriend
net die doodse selfoonskermpie het die toorkrag
om haar te laat glimlag

Wednesday 5 February 2020

ek klieder in 'n verwarring

ek klieder in ‘n verwarring van 
‘n oorlading van onkunde
ek skryf om te wys hoe
leeg ek waarlik is
geen metafore sal ek agter skuil
om my vakuiteit te verdoesel
skryf die leegte
spel dit letter vir letter uit
hulle sê mos skryf en skep vanuit dit wat jy ken
ek ken leegte
daar sal ek begin

Tuesday 4 February 2020

brokkel

die ontstuimige kleintongetjie grom vir
die geroesde musiekboks wat nog
sulke wonder-klanke kan uittoor

die donsige suikerbekkie-kuiken duik diep
in sy nes en maak die benoude geute vergeet van
al die brandnetels wat binne hulle oprank

die afgeskeepte Rubik kubus skaats en bons
verby die teësinnige handskoen
wat enige kubisme ten alle koste wil ignoreer

die gemmer verdrink in die tee
ek probeer hom red
maar hy is te glibberig

die laken sleep haarself oor die vloer
sy voel nie beskore vir hierdie nuwe dag nie
haar emosies is net te brokkelrig

al die dreine om die huis voel ook 'n ongemak
die vensterbanke kruip al
hoe nader aan die grond
die blitse springtoue dartel
al om my enkels
maar ek wil niks weet van spring

hoe ek ookal die woorde vaskram
die lettergrepe lê oral geskif
hoe de donder kan ek hierdie uitsaai?

Monday 3 February 2020

ek gee myself oor aan hierdie kak-gevoel

hoekom lieg
hoekom voorgee
hoekom wegskram
hoekom gril vir hierdie kak-gevoel
hierdie gevoel wat alle ander gevoelens
oorkakuwee
omarm dit
omskryf dit
vertaal dit
dat daar iewers op hierdie skerm van voorwendsels
'n stukkie waarheid
 - kakkerige -
waarheid sal deurskyn