Wednesday 26 February 2020

klank-spiere

in die kaskades van akkoorde wat val in die diep poele
van tyd
hoor ek die geeste gly deur die vingers se verbeelding
die klank-spiere skarnier met bedrewenheid
deur die oortonnels
die ontspanning en spanning in elke klank
kalibreer elke keer 'n nuwe hoopvolheid
dit is son vir die sintuie
wat deur elke porie insyfer
en die hart toor tot 'n bronsrooigoue klok
wat uit nuwe hartkamers tril en beier

en nogsteeds bly die kern van klank 
so glibberig 
dit gly gedurig uit ons tastende hande
ons soek beheer
ons soek tyd
dit is die musiek waarmee ons buite tyd kan klim
en dit is met musiek wat ons nuwe tyd kan maak
dit is ons verslawing
ag as die musiek maar heeltyd deur my siel kan filtreer
en my gemoed stroop en suiwer

ah musiek! wees genadig wees goedhartig wees geil
sonder jou stotter ek aan die sillabes van die lewe
met jou in my ore is niks vergesog
jy groei oor my hart soos mos oor klippe
maak die genadelose hoekigheid 
binne my
so sag en plooibaar
soos jou klank-spiere

No comments:

Post a Comment