Wednesday 30 June 2021

vanaand

        Konsert op die Shigeru Kawai vleuel klavier,
        Tatham Art Gallery
        Pietermaritzburg

vanaand kom ons staan saam
binne die oseaniese uitspansel
van hierdie grootse instrument

kom ons gooi ons kwesbaarheid
ons vreugdes, ons vrese
ons drome, ons honger
in haar golwe

haar getye giet 
die frekwensies in heilige harmonieë
stralend uit vingers -
sagte skadu's ululeer 
oor die klaviatuur

Tuesday 29 June 2021

my hart klop tennisballe in my keel

my hart klop tennisballe in my keel
so opgewonde is ek
om my digkuns te skryf

die warm intimiteit van ‘n gedig
wat op die diepste geankerde kern van my tong lê
daai diep wete en stuiptrekkende gevoel van die gedig
net voordat sy gebore word
verruil ek vir niks in die wêreld nie!

Friday 25 June 2021

dit is wat 'n hart doen

dit is wat 'n hart doen
wat 'n roos doen
wat 'n vagina doen
wat 'n sampioen doen
wat 'n cumuluswolk doen
wat die getye doen
wat die jellievis doen
wat die dansende lyf doen
wat die iris in die oog doen
 - blommende bomontploffings

Wednesday 23 June 2021

naaldekokers

        vir Kim

soos ‘n duisend naaldekokers
vlieg jou liefde oor
die meer van my hart

***

like a thousand dragonflies
your love flies over
the lake of my heart

Monday 21 June 2021

soos 'n pomoloog

kan ek soos ‘n pomoloog
die groei en oes van my gedigte benader
ek wil net so graag hê my vrugtedigtebome
moet dik skaduwees oor die warm aarde gooi

ek kies woord

die woord of die nie-woord - 
dit is die keuse

ek kies woord
want woord is klank is golf 
is sussing is bedaring 
is baanbreker wat weet
hoe om brug te bou tot 
in die ordening van
die groot chaos

Sunday 20 June 2021

ek skryf in groen ink vanaand

'n week en 2 dae laas digterlik geskryf
kom ek kyk wat etter peul vloei
drup kook stroom 
kartel spat
val
stotter sikloon
gis stoot beur uit my uit

versag my voorkop
lei die senuwees weg van die hart
geen plooi 
geen spanning
geen senuwees
geen vrees 
selfs geen asemsnak of hartklop 
gaan in die pad staan tussen my en die digkuns

ek skryf in groen ink vanaand
want ek glo in die blare-groei
van my sillabes

Saturday 12 June 2021

dit is nie toevallig

Madame Poësie,
dit is nie toevallig dat 
jou Poesie sonder die umlaut
die ingang van die wêreld en
al sy wondere is nie!

O Poësie, 
Jy is my Poesie sonder die deelteken
die kolkgat van ekstase
die fluweelsikloon van verrukking
die peristaltiese kern van Kreatiewe Begeerte


Friday 11 June 2021

ek wil liefde maak met my digkuns

ek soek digkuns wat my mond oopskeur
digkuns wat my tong ver verby 
haar verste grense laat strek

ek wil liefde maak met my digkuns
rol en stoot en hyg met haar
ek wil haar ekstase oral oor my laat smelt
druppend snakkend en gillend

o digkuns, my minnares my muse
my sappho 
my donker-oog-godin
my medusa
my kali
my llorona
jy sing die verlore siele weer terug
die heldere dieptes in!

soos sonneblomme

       vir Kim

my klein en gretige borste 
ryk uit na jou borskas 
soos sonneblomme
wat hulle pronkende gesigte na
die son draai

Wednesday 9 June 2021

jy laat haar hart blom

     vir Kim

jy laat haar hart blom
in 'n duisend lighonger blare wat 
ver en hoog uitryk met 
hulle dansende en trillende skakerings

die dankbaarheid raak amper 
te veel vir haar kleine hartjie
dit sprei en fontein oor
die beperkinge van haar mond en vel in 
groot deininge van liefde
 - 'n liefde so diep en warm soos verborge lawa

mag haar liefde jou onderaardse aar vind
en haarself in jou onderaardse hart toespin

Tuesday 8 June 2021

dop ek jou tong

       vir Kim

soos syerige pekanneute
dop ek jou tong
tussen my tande
en ontdek ek die hartstogtelike
grondstogtelike
boomstogtelike drif
van jou keel