Tuesday 19 November 2019

skanse

die heelal se digkuns kom gesikloon alom
beur en spat en rys en styg
pars elke allemagtige metafoor 
deur muur en blaar 
ystertralie en vel
maar breek net nie deur 
die skanse van my mond nie
ah hoe bitterlik smeek my wese
dat my mond sal toegee en 
die spanning in haar vliese sal bedaar
sodat die digkuns vrylik in en uit kan vloei

Sunday 10 November 2019

altruistic evolution

how is it that fruits, nuts, vegetables and seeds 
have evolved into such edible flesh - for others - 
but can not eat and enjoy of itself?

Thursday 7 November 2019

in die crescendo

in die crescendo van die liefdespsigose 
breek die liefdeskoors deur die buis
en die kwiksilwer spat verskrik
oor die onkantgevangde aarde

die geskeurde hartvlies kan nie 
die ordinariteit van berusting onthou nie

die sanikende verhemelte probeer hard
om aan die sagmoedige streling
van die positiewe mantras vas te klou

Tuesday 5 November 2019

scrap metal

my woorde val soos swaar stukke scrap metal op die papier
sonder enige finesse of goedhartigheid
net kille hoekigheid van letters wat my oë wil uitsteek

Sunday 3 November 2019

lewenslyn

my lewenslyn van ink
my suurstoftenk van sillabes
my muti van metafore

Friday 1 November 2019

soos visse

dit is die letters wat klank maak
die letters wat die rym laat vonk
letters wat skakels vir die tongketting gee
proe van voor af hoe elke letter proe
voel die geometrika, die koepels,
die krulle, die kinkels
die versadigde boepensies, 
die pylende vaart van
elke letter-vorm deur
my gewrig en vingers dartel
soos visse kom my letters in
die oseaan van die gedig vrygelaat uit 
die net van die pen
swem vry my lettergrepige visse
swem vry!