Wednesday 20 January 2021

weet nog hoe rond voel en rond lyk

die alewige inhokking
van die vierkantigheid
van die selfoonskerm!

ek is dankbaar ek droom nie in vierkante en square skerms nie!
as ek op my rug gaan lê reg vir slaap
tol en rol ek my oë ronder as rond in my oogkaste
ek maak seker my oogspiere weet nog hoe rond voel en rond lyk

die alewige vasnaeling aan die hoekige skerms
pasop vir visuele amputasie!

bly smag na die ronde kurwes en deinings
bly glo in die golwe en swierige driedimensionaliteit
hou aan om myself te verkyk aan die
oorvloeiende horisonne van my eie vormryke sig
dit is al hoe my oë volrondig en lewend sal bly!

Sunday 17 January 2021

meer rubato asseblief!

wanneer ek skryf, moenie so streng in tyd van
woord, rym en betekenis skryf nie
skryf met meer rubato
soveel gee en neem van tyd
‘n skielike diep asemhalende stilte
sommer so in die middel van ‘n metafoor
‘n welgeplaasde agogiese aksent
net voor die denouement van
die spanningsvolle samevloeiing van emosie
en soete-dik-ryk allergandos wat 
die kadens aan die einde van die gedig
so lank en taai as moontlik uitstrek
totdat die laaste klanke deur die konsertsale van julle ore
weergalm weeer g a l m
        w e  e    r      g     a    l     m

Saturday 16 January 2021

groot sussing

my groot sussing is my asemhaling
sodra my wonderlike wilskrag
dit aktiveer in ‘n intensionele aksie
begin die vrede soos warm melk
deur my are te syfer
in so ‘n toestand van berusting en kopstilte
lê ek stil-stil my skryfboek neer op my oop bors
en verdamp die gretigheid
om woorde in my net te vang
dan weet ek met ‘n stille vertroue
dat my hartklop
haar eie digkuns
sal gesels
tussen die blaaie 

Wednesday 6 January 2021

die oppervlakkige diepte van die gedig

my woorde lyk met eerste oënskou
plat, oppervlakkig, een-dimensioneel
kom staan nader en lees mooi tussen die lyne
jy sal sien hoe elke letter opstyg in
volrondige driedimensionaliteit
jy kan elke woord troetel soos
jou eie klinkklare skarnierende knieë
en die volvormigheid in jou
handpalm weeg en wieg