Thursday 31 August 2023

heel eerste keer

ek gaan bly skryf asof 
dit
elke keer 
die heel 
         eerste 
                keer 
is
wat ek op die maagdebladsy klim

en vir 
die heel 
         eerste 
                keer 
die soet portaal 
                     ontdek
               waardeur 
           die 
       poëtika 
   syfer

stom en stomp

ek voel alweer soos shakespeare se lavinia
- tong en hande afgekap - 
onvaardig in die daaglikse omgaan
van hierdie digtersbestaan

net soos lavinia hou ek 'n stok 
lomp in my stomme mond en 
met my stompe arms 
stuur ek die stok oor die grond en 
kerf die rou en snyende waarheid in 
die verbysterde grond

Wednesday 30 August 2023

Die Wederkoms

W. B. Yeats se bekende gedig The Second Coming het hierdie week weer oor my pad geloop.
En nou voel ek voorbarig genoeg om dit na Afrikaans te vertaal...

Die Wederkoms

Draai en draaiend in die tregterende kolk
Die valk hoor nie die valkenier
Dinge val uitmekaar; die kern kan nie langer vashou;
Blote anargie breek los oor die aarde,
Die bloed-deurdrenkte gety trek los, en oral
Verdrink die seremonie van onskuld;
Die bestes het hulle oortuiging verloor, wyl die ergstes
Vol passievolle intensiteit rondpyl.

Sekerlik moet ‘n openbaring oppad wees;
Sekerlik is die Wederkoms aan die kom.
Die Wederkoms! Skaars is daardie woorde oor ons lippe
Wanneer ‘n grootse beeld uit die Spiritus Mundi
My sig kwel: iewers in die sand van die woestyn
‘n Vorm met die lyf van leeu en die kop van man,
‘n Kyk so strak en genadeloos soos die son,
Beweeg met sy stadige dye, wyl alles daaromheen
Skadus gooi van die verontwaardigde woestyn-voëls.
Die donker val alweer; maar nou weet ek
Dat twintig eeue se stenerige slaap
Verdraai is tot nagmerrie deur ‘n sussende wiegie,
En watter rowwe dier, sy uur uiteindelik gearriveer,
Sloer na Bethlehem om gebore te word?

Vertaling van W. B. Yeats se The Second Coming

Tuesday 29 August 2023

slaaf van die lafenis

my verslawing
is die lawing wat 
my verse vir my bring

moenie tussen my vers
en sy lawenis kom nie!

ek is die slaaf van die vers-lawing

moenie my rehab toe stuur nie!
die lafenis van die vers-lawing
is die beste terapie!

Monday 28 August 2023

te veel gevra?

die woord klop in my tong
soos 'n polsende hart

kyk, daar is die bloed van die digter wat
uitrank tussen die honger sillabes

en kyk, daar is die are wat bontstaan om
die smagting van die digter te voed

- smagting om betekenis 
in 'n ongeforseerde, onsentimentele,
intelligente, indrukwekkende,
sielsroerende en hartskwylende wyse oor te dra

o jiire, is dit nie te veel gevra van
my bloedsomloop nie?

Sunday 27 August 2023

dis genoeg gevra van 'n gedig

ek het jare terug geskryf oor hoe ek wag vir
die Groot Gedig om sy verskyning te maak
 - en ek wag nogsteeds!

nou wat ek terugdink aan daai gedig  
besef ek wel hoeveel klein Grootmoedige Gedigte ek
sedertdien geskryf het
verse wat nie noodwendig sosiale, ekologiese
en politiese grense verskuif nie
maar verse wat wel vonke in my murg skiet

die Groot Gedig mag my nog ontwyk
maar vir nou skaar ek my by my klein Groothartige Verse
met hulle in my mond
word my voeteval
verkwik met 'n waaghalsige elegansie

- en dis genoeg gevra van 'n gedig
 - groot of klein!

Saturday 26 August 2023

nader

elke keer wat ek 'n klavierstuk bemeester
voel dit asof ek 'n tree of twee
nader aan die uitmergeling beweeg

my rug, my ribbes, my longe, my skouers,
my nek, my heupe, my boude
word stukke wrak van die inspanning

ek strek, ek stap, ek yoga, ek fiets, ek dans,
maar dit voel nie genoeg
moet ek die klavier laat gaan vir 'n wyle?

wat begeer ek meer - 
'n gelukkige en vry lyf
in die uitspansel van die natuur
of vingers en rug styfgekorrel in harmonieuse vlug
oor die een en 'n halwe meter klaviatuur? 

Friday 25 August 2023

vers-stand-dig

soms dink ek ek het nie verstand genoeg 
om verse te skep nie
ware diep -en verregaande verse ontwyk my meer en meer
kan ek net nog een gedig skryf 
wat mense se asem sal wegblaas!?

ek is te letterlik 
te lyflik
te skwêr
om vernuftig en verdigtig met die woorde om te gaan

maar dit gaan my nie keer om aan te hou skryf 
ek en my verse sal opstandig wees in
die gesig van die mismoed 

ja, Lara!
   komaan, wees vers-stand-dig
      en bly skryf!


Thursday 24 August 2023

hoe de hel !?

hoe de hel kry 'n digter 
dit reg om betekenis in 
'n ongeforseerde, onsentimentele,
intelligente, indrukwekkende,
sielsroerende é
hartskwylende wyse oor te dra?

Wednesday 23 August 2023

bloedrooi is my digkuns

o my digkuns, jy kan nie help om 
bloedrooi en bloedig 
in my hart te klop nie 
jy het al die nood-digte bestanddele
om gesond en gretig te oorleef - 
die plasma van die verbeelding 
           (om die voedingstowwe in die honger selle te pomp)
die rooibloedselle van die metafore 
           (om julle asems weg te blaas met die suurstof van die vergelyking)
die witbloedselle van die ritme 
          (om julle immuniteit teen die verveling op te bou)
en die bloedplaatjies van die sinnebeelde 
          (om die vers ordentlik te laat stol in julle ore)

o my digkuns, o my bloed, hoe alles perfek pols in bloedrooi harmonie!
hoe kan ek anders as 
om myself 
bloed-dig op
die papier uit te druk?!

Tuesday 22 August 2023

'n klein vlokkie van 'n gedig

ongestoord dig ek voort met die woord wat 
rym met die soort akkoord wat
my neem na die toevlugsoord van behoort
sodat die lewenspoort kan uitswel
soos 'n digte vrugteboord 

dignoord en vlokvoort!

Monday 21 August 2023

...vanwaar die karakters op die Kruispad?

ek is die Prehistoriese Pos-Agent wat
bly klou aan die ou nuus
ek is die Alleen-er wat
die skares beloer en oor hulle
en myself kopskud
ek is die Ellendeling wat
so pateties, onkreatief, 
lui en gedisillusioneerd my asem uitblaas
ek is die Grot-Bewoner wat 
die bekende beskerming wil vermenigvuldig
ek is die Anargis wat 
al die mure in my hart wil afbreek
ek is die Kariljon wat 
deur dit alles liries en luid wil bly sing

Sunday 20 August 2023

vers koning

ek het geen verskoning
laat ek
skryf asof
hierdie
vers
koning
gaan wees
van die lande
van my digterlike verbeelding

Friday 18 August 2023

sneeuvlokkies

my digdrome is sneeuvlokkies in die afrikason -
hulle toor vlugtig die berghange van my verbeelding
maar gou smelt dit weg in die warm son van vergetelheid

Wednesday 16 August 2023

verder

elke keer wat ek 'n klavierstuk bemeester
voel dit asof ek 'n tree of twee 
verder van die dood beweeg

Tuesday 15 August 2023

laat wiel

ek klim binne my gedig asof 
dit ‘n trollie is
en laat wiel met haar die rymende isles af –
geen groter plesier as poetry-on-wheels nie!

Monday 14 August 2023

moet jouself net nie ophou verbeel nie!

en ek sê dankie
dat ek kan bly asemhaal tot in die einder van die liefde
as my longe te vroeg opgee, laat ek in die heelal se
kolkende sterremaag val en my ore bly drink aan
die sfere se singende fonteine
die wat ek liefgehad het op aarde
sal skielik in hulle slaap wakker skrik
en hulle harte voel gloei en weet dit is ek
wat hulle herinner om
na die wilde elegansie van oorlewing te pyl

ek luister na Antjie en ek dink
wie het vlerke nodig as jy ‘n digter in die omtrek het?
fokkit, moenie verder weg as hier kyk nie –
die perfeksie sit alreeds reg onder jou voete
waiting to leap and cascade with lavacious vivaciousness
ek het genoeg humorsin en avontuurlus om
die poësie te herskeleteer
die skynmuur van ons verbeelding 
sal helder bly skyn in ons doen en late
so asseblief moet jouself net nie ophou verbeel nie!
jy is ‘n boom wat nie anders kan as
om ver en hoog in digte blare-takke uit te spruit nie

en dan wanneer jy huistoe keer
sal die getye nog spel en speel tussen asem en verbeelding
mits jy nie vergeet om in aanraking te bly met die aarde nie
die vers flikker saggies in afwagting
is dit verbasend dat gesig een letter verskil van gedig?

Sunday 13 August 2023

verwronge gesig

shit, word ek ingekatrol
deur die facebook gat
wanneer ek aan die ander kant uitstrompel
voel my gesig soos die portrette van Picasso
oë, neuse, monde, wenkbroue, ore 
op ander plekke oorgeklim

ek vat my twee hande
en druk en knie
my gesig se vel en bene en 
oog -en neus -en mondholtes
terug na hulle gewone plekke

na ek ingesluk is deur die selfoonskerm
kom ek stotterend terug na die oppervlak
o fok, my gesig het weer uitmekaar geval
in plaas van myself regruk
frommel ek my verwaarloosde gesig op
en gooi dit tussen die kannibalistiese tande van die kuberruimte

6 junie 2023

Saturday 12 August 2023

ver(s)werking

(gedig geskep uit die eerste versreëls van my 20 gedigte van 2023)

ek soek ‘n lewende woord gestring van
die werwels van die letters
sodat die marionet wat jarelank die pa se hande gedienstig volg
vry kan breek en die verbasing teen mense se wange kan bons
al het ek hoe baie gesien hoedat
die gevoel van die gedig kom platlê soos
‘n lojale hond by my voete
kry ek dit maar min reg om
die digterlike oomblik te verleng na ‘n ordentlike vers
meestal trek my woord kromrug
en my asem jaag soos ‘n ondurige tango
in hierdie begeerte vir woordkapperjolle
aaijaai jaai jaai, fly me to my heart
dit is waar dit sal begin:
dit begin met die eerste tree
buite word die see natter in hierdie reën
die springgetye skuim
my are sluk die golwe heel in
die eksplosiewe K in jou naam
steek vas in my keel 
al waaraan ek kan vashou is
die warm helderheid van jou oë -
dit is presies daar waar ek wil wees
breathe me into your love
dan voel alles weer soos daai eerste dag

Eerste lyne van my blog-gedigte 2023

Ek soek ‘n lewende woord
Die werwels tussen die letters
Die marionet het nou vir te lank
Ek sien ‘n pa
Is dit verbasend dat gesig
Al het ek hoe baie
My gedig kom lê plat
Al is hierdie digterlike oomblik
Wanneer my woord kromrug
Soos ‘n ondurige tango
Begeerte vir woordkapperjolle
Fly me to my heart
Dit begin met die eerste tree
Springgetye skuim
my are sluk die getye
the explosive K in your name
the warm clarity in your eyes
dit is daar waar ek wil wees
breathe me to your love
die eerste dag toe ek

Friday 11 August 2023

lewende woord

ek soek 'n lewende woord
waaragtig so lewend soos 'n hele kloppende hart
nounet geruk uit die hygende borskas van 
'n liefmakende mens
ek honger vir 'n woord so lewend en spartelend soos 
die eerste selverdeling in die fetus
ek kan nie anders as om 'n polsende woord 
teen my hunkerende lippe te wil druk nie
geen ander woord as die lewende woord sal doen nie!
 
'n woord so lewendig soos die bloedige hoes van mimi wat 
in haar laaste boheemse oomblik
gryp na liefde en lewe
'n woord so gretig vir lewe EN oorlewing
stotterend kom die woord oor die vlaktes van my tong aangestrompel
maar lewe sal sy lewe

die akademiese prima donnas en taalkundige skerpskutters 
moet maar vers-ink in 
my onverfynde wildarmige poësie
vir wat wil ek bloedlose woorde in 
vaartbelynde konstruksies met onsielige ongeselligheid
die honger en alleen wêreld instuur?

gee my eerder bloeiende lewende woorde
wat ek 
lomp   giggelend    blosend  
baldadig   self-bewus 
parmantig  twyfelagtig en 
skaamteloos 
uit my mond laat
tuimel

Thursday 10 August 2023

geen verskoning!

die werwels tussen die letters skarnier ongeduldig
die longe kry skaars asem van die opwinding in 
die voete wat binnekort in die digterlike dans gaan inspring
as antoinette kellerman op 70 krog se woorde lyf en bloed kan inblaas
dan kan ek my eie bloedvlesige woorde lyf en bloed inblaas
ek het geen verskoning!

hier kom ek!

Wednesday 9 August 2023

ou-bekende

die marionet het nou vir te lank gelê
lig haar stowwerige kop op
span haar toue weer styf
laat haar ledemate stadig begin ritteltit met 
die ou-bekende manipulasies wat deur 
die marionet-meester se kneukels gety