Monday 23 March 2020

die agterdogtige palimpses

die agterdogtige palimpses
agoniseer al jare lank oor die
pandemiese tyding
wat touspring oor die bukoliese juigliedere

wie bedien alewig die swetterjoel anarchiste
wat hulself vermurwe met die karmosyn verdoemenisse?

jy sal moet ligloop vir die smotsige kombuishande
wat hard probeer ‘n inkomste verdien
die verskoonagtige versies skitter verboureerd met
die modieuse arsenaal lettergrepe wat die gedagtes wil orkestreer

die grassnyer bly dwars en dans klippig en pittig
deur die bowling alleys van die gewete

die heuning en die dou vergaar behendig al die swerkater
se verskonings en verdedig die besimpelde ritteltits
al wie bly mediteer in hierdie tye is die bedagsame pigmente
wat nie oor die nuutgeborenes se velle wil spat nie

die meganiese trots van die kariljon kners op sy tande
en elke beier van sy klokke loop katvoet deur  die vergetelheid
wat knobbelrig bly progresseer met groot drif

die geluksalige gesant raadpleeg die fatsoenlike karbonkel
om die droom te laat bedaar

kom eet jou selerysop
daai groen vesels sal die agoniserende palimpses balanseer
met onslordige verduidelikings

ek parafraseer maar net die groot idee wat so graag 
sy duisendjarige verjaarsdag wil vier
komaan, vergeet van die alewige afskeping
my dierbare agterdogtige palimpses
blaas die duisend kerse dood
en sing vollebors die bukoliese juigliedere!

Friday 20 March 2020

peul

die metafore peul bont uit die oksels van my arms
geen enkele woord sal in my taal
ongesê gelaat word nie!

Friday 13 March 2020

hoekom skryf ek?

hoekom skryf ek?
ek skryf opsoek na ‘n helderte
‘n vrybreek van fiksasies
ek skryf opsoek na vryheid
‘n ontkoppeling van die verrotting
ek skryf om my eie skreeu te vind
die skreeu wat my binnewande sal louter
ek skryf om my kop, longe
en lyf se disharmonie weer in stem te bring
ek skryf omdat ek net sin wil maak
dis al

Tuesday 3 March 2020

wieggedig

sil-la-bes
een-twee-drie
glip-glip-glip
jou o-re
weg na die
ver-weg-se
sus-se-ling
een-twee-drie
drup-drup-drup
een-vir-een
deur my pen
let-ter-tjies
slaap nou gou
los nou die
kop-pie uit
sy wil net
doe-doe-doe
draai nou weg
let-ter-tjies
kom weer 'n
an-der dag
sa-li-ge
droom-lan-dy
wil ons nou
bin-ne gly
o wat-ter
lek-ker-te
voel ek nou
met hier-die
dak-tie-le
wat met my 
tong af-gly!