Friday 16 February 2024

stukkies

wanneer ek jou sien
blom my oë artisjokke

*

ek skree onder die water
die name van
my ongebore gedigte

*

drome bloei 
soos shweshwe mandalas 
uit haar tempels

*

die bome skud 
hulle koppe vir die wind

*

die gedig karteer haarself 
oor die lengtegraad 
van die ritme
en die breedtegraad 
van die rym

*

die tande byt die naels 
die lyf soek alewig vasbytplek
in hierdie wankelrige bestaan


Wednesday 14 February 2024

streel en dekodeer

streel die papier
tot in die hart van die hoendervleis
al is dit al wat my potlood vanaand doen

*

watter elegante aksie is skryf
fyn aanmekaarwewing van woorde
om die draadwerk van die hart
te dekodeer