Saturday, 29 September 2018

groei en rym

in my moegster moegte sal ek 'n gedig skryf
al moet my kop in semi-droomland begin dryf
dis mos 'n kans om in wakker én slaap die fokus te behou
en die skoonheid van die oomblik met 'n pen in die hand te aanskou

mag die kunstenaar nooit sê "ek hardloop uit tyd"
ag nee man, dit is geen woorde van jolyt!
as digter moet jy verse kan maak uit die sekondes van die klok
daar is regtig geen ding wat jou kreatiwiteit sal kan inhok

verbrand die grense in jou kop! breek die slotte oop!
dit is nou die tyd om jou wese tot ongegrendelde essensie te stroop
staan op en swaai jou arms hoog en ver
jou verse sal groei en rym tot die blinkste ster

Tuesday, 25 September 2018

pluk die ryme soos appeliefies


pluk die ryme soos appeliefies uit die bos
ryg hulle soos sonskynige sonne deur die papier
laat die verse stadig en groen groei soos mos
wat jy oor jou honger tong kan gooi nes 'n karos

dit is 'n moerse vertroeteling vir woorde om so mooi te lê
met die berusting dat niemand hulle ooit sal kan ontsê
waaragtig! 'n gedig sal jy nooit kan ontskryf
soos 'n gretige bloeisel kom lê sy in jou lyf

so, bly die ryme pluk soos appeliefies uit die bos
sonder om 'n voet te lig sal die verse jou van engte verlos

Sunday, 23 September 2018

granaat

laat my weggaan op
'n tog ver buite my kop
verby die horison wat
my oë kan sien

kan ek my skedel oopvou
soos 'n granaat 
en die sade van my denke
laat spat en skitter waar hulle wil

Wednesday, 19 September 2018

...en dit is nie by wyse van (surrealistiese) spreke nie

die ewigdurende fantasie om
al die bene in my skelet soos dolosse
uit te strooi oor die grond
en dit weer te herbou tot 
'n splinternuwe vorm

dali en picasso staan opsy!
maak plek vir lara
se Hervorming

Tuesday, 18 September 2018

maak jou oë toe

maak jou oë toe
skryf hierdie beelde op
die binnekant van jou ooglede:
die gesig van jou moeder
die hande van jou vader
die reuk van ryp perskes
die wind op jou voorkop
die son op jou skaamhare
die roosmaryn gepars tussen jou duim en voorvinger
die knetter van vuur in jou ore
die taai streep heuning wat jy van jou voorarm lek

sonder verfkwas, tellie of foonskerm 
het hierdie vers 
lig 
in jou kop
gedig

Saturday, 15 September 2018

maklike eggo's

die kleurling-kele is onapologeties aan
die lewe vanmiddag
skrille sillabes tref die nokke van dakke
die son aanskou alles ongedeerd

die geesdriftige dialoog word al hoe harder

         ek lag in my mou
         ons wit mense se stemme so self-bewus 
         en verstrak met onbenullige inhibisies

hoe vry klink hulle volborstige stemme 
wat sulke maklike eggo's 
in die straat 
laat lê

Wednesday, 12 September 2018

draadwerk

uit die woesteny kom daar 'n sistemiese
raamwerk geskep
pype draadwerk kanale are
oor en weer
'n vervoer van noodsaaklikheid
'n onwrikbare oordrag van informasie
hierdie gedig is die hoeveelste afdruk in
die matriks
die ink-vloei 'n miniatuur replika
van sistematiese beheer en kolonisasie
verewig vasgevang in
die draadwerk 
van die tong

Monday, 10 September 2018

die ekheid is 'n fenominale vryheid

die rigiditeit van die rasionaliteit -
alewig dink en blokkig
in reghoekige begrip konstrueer
die begeerte brand kwaai
om onlogies, grensloos en koploos met
die digtatorika te toor

moet ek die anatomie van skedels en
atome ken om waardigheid aan
die skeppingsdaad te gee?

sekerlik kan my instinktiewe verbeelding
'n rol speel in die uitsnuffel van
poëtiese waarhede

'n goeie begrip het 'n halwe woord nodig

die ekheid is 'n fenominale vryheid
wat so mobiel allerhande jye kan ontmoet
almiskie! ek gaan hierdie ek
omdolwe en opklits
sodat ek soveel moontlike essensies uit
my ekheid kan distilleer
soveel potensiaal wat nie kan wag om
die ek verder en dieper in
die ek-splorasie in te stuur nie

Thursday, 6 September 2018

ergenis

as klippe aan hulle emosies 
kon uiting gee
dan sou hulle sekerlik 
ergenis wys oor
ons platvloersheid

Wednesday, 5 September 2018

soos wat die water die grond dreineer

soos wat die water die grond dreineer
sypel daar 'n hoopvolheid deur my rugstring
my kop is besig om die dag te verteer tot 'n gedig
my oë verdrink in die vriendelike lig wat
deur die vensters breek
hoe so een toneel my hele wese omkeer en uitkeer
totdat ek deel van die wolklandskap word
daar is nou niks ekstern of intern nie
alles is nou een en inmekaar
niks om weg te steek of af te loer nie
skamigheid het verdwyn
geheimenisse is nou 'n blootgestelde feesviering
die dans van die atome word sigbaar
ek skud my spiere deur die gordyne
die gedig stop hier want haar arms verander
in die vlerke van 'n skoenlapper op vlug
om al die verstotenes terug te roep na die kern

Monday, 3 September 2018

om op die tong van sylvia plath te sit

om op die tong van sylvia plath te sit
en met haar speeksel te meng
en die metafoor te voel drup
op my voorkop
op my borste
op my kuite ...
ah die wondersoetheid om binne in
die seëning van haar digterlike genialiteit
asem te haal