Monday 21 March 2022

drup

drup   drup   drup
die digkuns soos die
drup   drup   drup
van my lekkende stortkop

maak nie saak 
hoe styf ek my oë en ore toedraai nie
die digkuns bly
drup   drup   drup

Sunday 20 March 2022

geen-etika

vaders en moeders dra kanker oor aan
hulle kinders deur 
die geen-etika

geen deernis
  geen aandag
   geen liefde
    geen komplimente
     geen aanvaarding
      geen feesviering

asseblief stop die vloei van hierdie geen-etika!

Friday 11 March 2022

hierdie verlange

hierdie verlange sit reg hier tussen my kiestande
verlange so helder in sy newelagtigheid
verlange so vormvas in sy vormloosheid

ek kan daarop kou
maar dit breek nie in kleiner stukke op nie
ek kan dit nie weg maag toe sluk nie

soos ‘n oop stuk veld
waardeur ek met my oop mond hardloop
en nie die son of die gras of die grond kan ruik nie

die verlange is ‘n groot onoplosbare stuk leegheid
wat hol kolle teen
my oogballe ets

dit help nie om my oë toe te maak
die kolle glip af na my voete
ek dryf deur die dag op hol voete

hierdie verlange so vormvas in sy vormloosheid
so helder in sy newelagtigheid
my kiestande kan nie meer kou –

die verlange
het holtes in hulle ook
gevreet