Friday 11 March 2022

hierdie verlange

hierdie verlange sit reg hier tussen my kiestande
verlange so helder in sy newelagtigheid
verlange so vormvas in sy vormloosheid

ek kan daarop kou
maar dit breek nie in kleiner stukke op nie
ek kan dit nie weg maag toe sluk nie

soos ‘n oop stuk veld
waardeur ek met my oop mond hardloop
en nie die son of die gras of die grond kan ruik nie

die verlange is ‘n groot onoplosbare stuk leegheid
wat hol kolle teen
my oogballe ets

dit help nie om my oë toe te maak
die kolle glip af na my voete
ek dryf deur die dag op hol voete

hierdie verlange so vormvas in sy vormloosheid
so helder in sy newelagtigheid
my kiestande kan nie meer kou –

die verlange
het holtes in hulle ook
gevreet

No comments:

Post a Comment