Saturday 8 February 2020

ironiese onreg

by Gearing's Point in Hermanus
vanwaar mens die mooiste kuslyn vir myle kan sien
met die berge en lug wat alles perfek omlyn
staan daar 'n paartjie
 - selfone in die hand - 
ek hou veral die vrou dop
tydens die lang en uitgebreide voorbereiding van 
die hele selfie proses
is haar mond strak en nors
naarstigtelik opsoek na daai perfekte komposisie
van gesig en see
 - haar boyfriend tol iewers vergete in sy eie selfie-sikloon - 
soos wat sy net reg is om die knoppie te druk
verskyn daar verbasend 'n glimlag op haar gesig
so onspontaan
so geoefen
so aangeplak
so geselfie
soos wat haar foon wiegend oor haar kop troon
val haar oog op my 
ek glimlag met deernis vir haar 
haar eie glimlag verdwyn in 'n oogwink
die strak en norse mond is weer terug
genade!
almal aan die ander kant van daai foto sal net like knoppies druk
min wetend dat sy net vir haar skerm smile
nie vir die lewende mense om haar
nie vir die see
nie vir die berge
nie vir haar boyfriend
net die doodse selfoonskermpie het die toorkrag
om haar te laat glimlag

No comments:

Post a Comment