Sunday 15 December 2019

ek bid met en vir my tong

ek bid vanaand dat as daar 'n hemel is
my tong reguit soontoe sal gaan na my dood
en as een van my liggaamsdele kan inkarneer
dan wil ek hê dat dit my tong is wat herlewing sal ervaar
'n tong sonder herinnering of
bewussyn
'n tong met net die hier-krag
die nou-krag
‘n tong wat vir geen iemand
se onthalwe sal klink of rol nie
net vir die onthalwe van haarself -
vir haar eie spierkragtige verrukking
mag my tong die een wees
wie die ewige lewe mag ervaar
en in eindelose kolke en maalgate
die ore van die grond altyd sal bly bekoor
ek bid
ek bid
ek bid met en vir
my tong vanaand

No comments:

Post a Comment